Grootfontein se inwoners vies oor vullis
Grootfontein se inwoners vies oor vullis

Grootfontein se inwoners vies oor vullis

Gerine Hoff
Inwoners van Grootfontein het hul ontsteltenis uitgespreek oor die onhigiëniese toestand van die dorp, met beweringe dat hope rommel, karton wat in afvalwater lê en gebreekte bottels 'n algemene gesig geword het.
Die inwoners is woedend vir die munisipaliteit, wat daarvan geskuldig word dat “niks gedoen word” om die situasie te verbeter nie.
“Grootfontein is vuil en gaan agtertuit,” het me. Debby Khamuses gesê en bygevoeg dat die Blikkiesdorp informele nedersetting die ergste daaraan toe is.
Khamuses het gesê daar is geen stortbakke waarin inwoners hul huishoudelike rommel kan weggooi nie – hulle gebruik dus ’n oop stuk grond hiervoor.
Sy het voorts gesê die munisipaliteit het die afgelope vier jaar geensins rommel verwyder of die gebied skoongemaak nie.
Nog ’n inwoner, me. Theopolina Paulus, het gesê die middedorp is baie vuil. “Ry bietjie in Blikkiesdorp en Makalani rond en sien self hoe vuil dit is,” het sy gesê.
Paulus het ook gekla dat die munisipaliteit in die afgelope vier jaar geen waterpyplyne of rioolstelsels by die meeste informele nedersettings aangebring het nie.
Grootfontein se uitvoerende hoof, mnr. Charles Kariko, het by navraag geweier om oor die aangeleentheid te praat en gesê hy is in ’n vergadering. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer