Groot taak vir span in vreemde

Rusland se nasionale trots word môre in die hartland van sy rugby uitgedaag.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Afrigter Phil Davies stoot môre in Krasnodar, Rusland, 'n Namibiese rugbyspan in die veld wat nege ver­anderinge en 'n posisionele skuif toon in vergelyking met die laaste toets teen Kenia in Augustusmaand (13:00 Namibiese tyd).

Die Namibiërs is reeds voor die November-toer gedwing om vanweë beserings, eksamens, werk- en professionele rugbyverpligtinge verskeie aanpassings te maak.

Net vier agterspelers begin môre in dieselfde posisies as teen Kenia, naamlik heelagter Chrysander Botha, vleuel Johan Tromp, senter Darryl de la Harpe (die nuwe kaptein) en losskakel Cliven Loubser. JC Greyling skuif terug na buitesenter nadat hy teen Kenia die 11-trui gedra het.

Voorlangs is stut Casper Viviers die enigste oorblywende lid van die beginspan wat teen Kenia opgedraf het.

Die slot Tjiuee Uanivi (26 toetse) kon nie betyds 'n visum vir Rusland kry nie en sal eers volgende week vir die Spanje-toets in Madrid by die toerspan aansluit.

In Uanivi se afwesigheid begin die Ludick-broers Ruan (Skroef) en Adriaan vir die eerste keer 'n toets as die land se slotpaar.

Adriaan is een van twee debutante in die beginspan tesame met die vleuel Janry du Toit, terwyl die belowende flank Prince !Gaoseb op die reserwebank vir sy eerste groot opdraf sal wag.

Die terugkeer van Renaldo Bothma is eweneens merkwaardig nadat hy sy linkervoorarm by drie geleenthede gebreek het. Op sy beste is die London Harlequins-agtsteman 'n groot faktor en saam met die woelige flanke Thomasau Forbes en Max Katjijeko is dit 'n splinternuwe kombinasie.



RUSSIESE BERE

Met soveel ontwrigting is dit moeilik om te voorspel wat ondersteuners van die Namibiese span behoort te verwag.

Namibië is op 'n geskiedkundige eerste rugbybesoek aan Rusland – wat boonop 'n paar plekke hoër as hy op die wêreldranglys is en ewe gemotiveerd in sy opbou as kwalifiseerder vir die 2019 Wêreldbeker is.

'n Oorwinning in die vreemde sal 'n gróót prestasie en deurbraak wees.

Rusland se nuwe afrigter, Lyn Jones, is immers eerstehands vertroud met sy opponente se sterk en swak punte nadat hy die Namibiese amateurspan, die Windhoek Draught Welwitschias, in 2017 en 2018 op provinsiale vlak gebrei het.

Jones en Davies, goed bevriend as oudspanmaats vir Wallis in die 1990's, se denkwyse was dus grootliks gestroomlyn terwyl hulle vir die gesamentlike doel gewerk het.

Môre sal Jones se eerste toets met Rusland wees, nadat hy in Augustus gekontrakteer is. Hy was dus nie betrokke by die Russe se laaste Junie-toetse in Spanje nie, toe hulle teen Amerika verloor (13-62) en teen Kanada gewen (43-20) het.

Rusland se nasionale rekordhouer met 710 punte, die 33-jarige losskakel Yuri Kushnarev, was in beide die Junie-toetse in aksie en indien hy vir môre gekies word, sal dit sy 100ste toets wees. Kushnarev is vir Davies-hulle glad nie onbekend nie, met twee ontmoetings in 2015 in Windhoek asook verlede jaar in Montevideo – toe Cliven Loubser sy toetsdebuut van die reserwebank af gemaak het.

Die Namibiese wedstrydgroep (aantal toetse tussen hakies):

15 Chrysander Botha (54)

14 Johann Tromp (37)

13 JC Greyling (27)

12 Darryl de la Harpe (kapt, 44)

11 Janry du Toit (0)

10 Cliven Loubser (11)

9 Damian Stevens (20)

8 Renaldo Bothma (15)

7 Max Katjijeko (8)

6 Thomasau Forbes (13)

5 Adriaan Ludick (0)

4 Ruan Ludick (15)

3 AJ de Klerk (23)

2 Obert Nortjé (10)

1 Casper Viviers (34)

Reserwes: Niël van Vuuren (3), Desiderius Sethie (8), André Rademeyer (1), Rohan Kitshoff (41), Prince !Gaoseb (0), TC Kisting (4), PW Steenkamp (5), Justin Newman (10).



SO WEEG GESKIEDENIS OP

Rusland loop met drie-twee voor in sy vyf vorige botsings teen Namibië, hoewel Namibië 'n naelskraapse 121-116 voorsprong op die gesamentlike punteverskil het. Die tellings was soos volg (kaptein en afrigters in hakies):

19 Maart 1994 in Windhoek: Rusland wen 31-12 (Gerhard Mans, Henry Pretorius)

23 Januarie 2010, Windhoek: Rusland wen 30-15 (Jané du Toit, Johan Diergaardt)

11 Julie 2015, Windhoek: Namibië wen 39-19 (Jacques Burger, Phil Davies)

18 Julie 2015, Windhoek: Namibië wen 45-5 (Jacques Burger, Phil Davies)

18 Junie 2017, Montevideo, Uruguay (Nasiebeker): Rusland wen 31-10 (Renaldo Bothma, Phil Davies)



DRIEËREKORD

'n Interessante subteks in die agtergrond sal wees dat Namibië die naweek 'n kans staan om 'n wêreldrekord by Nieu-Seeland oor te neem.

Die All Blacks hou tans die rekord met twaalf opeenvolgende toetse waarin hulle elke keer minstens vier drieë gedruk het.

Dié rekord is gedurende 2015 en 2016 opgestel en die huidige Kiwi-span staan juis weer op twaalf op 'n streep – dieselfde getal as waarmee die Namibiese span nou spog.

Nieu-Seeland speel môreaand teen Engeland op Twickenham.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer