Groot skande teen Griffons gemaak

Andrew Poolman
Andrew Poolman - Afrigter John Williams het sy verskoning aan rugby-ondersteuners aangebied vir die skokkende vertoning van die Welwitschias wat Saterdag met 101-0 deur die Griffons van Noord-Vrystaat verneder is.
Ernstige nabetragting oor elke aspek van die topvlak van senior rugby in Namibië sal onafwendbaar wees ná hierdie ongewenste en neerdrukkende inskrywing in die geskiedenisboeke.
Senior verteenwoordigende spanne van Namibië het al tevore honderdtalle in wegwedstryde afgestaan, maar voor Saterdag is só ’n spektakel nog nie in die hedendaagse Hage Geingob-stadion gesien nie.
Die spelers se gebrek aan veggees en fokus op hul primêre take, wat veral in die swak verdediging uitgewys is, is waarskynlik die enkele mees onrusbarende aspek.
Selfs die getroue ondersteuners het lank voor die eindfluitjie reeds begin padgee. Hulle het toe al genoeg gesien namate die Griffons-telling eenvoudig sonder keer aangegroei het – van 40-0 ná 27 minute, 54-0 met halftyd tot 73-0 met twintig minute oor.
Die Noord-Vrystaters tel onder die kleiner unies op die Suid-Afrikaanse toneel, maar in die beroepsera is hul opset Namibië tans ’n hele ent vooruit.
Vanuit die Griffons se geledere is gesê dat hulle die Welwitschias se vorige wedstryde ontleed en daarvolgens geweet het dat ’n stewige skrum en soliede verdediging die sleutel sou hou.
“Die Welwitschias se aanvallers verloor balle in kontak. Ons het geweet as ons van daardie punt af die bal met twee aangeë kan wegskuif, behoort die eerste gapings reeds sigbaar te word,” was die antwoord oor hoe die Griffons die wedstryd benader het.
Agtsteman Joe Hermann en binnesenter Francois Wiese het ’n keer of wat oor die voordeellyn gestorm, maar hierdie besit het ook verlore gegaan. Die Griffons se uitgeslape skrumskakel Boela Abrahams en losskakel George Whitehead het telkens die teenaanvallers met min moeite deur die groot gapings tussen die halfhartige verdedigers deur gestuur. Die Welwitschias se kaptein Rohan Kitshoff was een van min tuisspelers wat hul koppe hoog kan hou.
Heelagter Riaan van Zyl is sowat 20 minute voor die einde met ’n skouerbesering af, met die draagbaar wat sake selfs erger laat lyk het.
Die vooruitsigte vir die komende weke lyk allesbehawe belowend. Komende Saterdag is ’n afnaweek (’n week te laat?), voordat ’n wegwedstryd teen die Valke in Kemptonpark voorlê. Dié wedstryd is een van drie wat in die afwesigheid van ’n hele klompie plaaslike spelers sal moet plaasvind wat saam met die nasionale toerspan na Roemenië sal vertrek. Phil Davies, afrigter van die toetsspan, was ’n toeskouer en was agterma filosofies dat alles nie verlore is nie.
John Williams, afrigter van die Curriebekerspan, sê hy het vertroue dat Namibië in die opbou na die Wêreldbeker-kwalifisering vir 2019 die vrugte van die huidige stampe en stote sal pluk. Williams sê die hoër vlak waaraan die plaaslike amateurs tans blootgestel word, sal bydra om die land opnuut voor sy Afrika-uitdagers Kenia en Zimbabwe te plaas.
Die Griffons se puntemakers: Drieë deur vleuels Warren Williams (3) en Selvyn Davids (2), flank Boela Venter (2), agtsteman Dirk Grobbelaar (2), heelagter Tertius Maarman (2), stut Daniel van der Merwe, haker Neil Rautenbach en die plaasvervangers De Wet Kruger en Lohan Lubbe.
Losskakel George Whitehead het met 13 uit 15 doelskoppe geslaag om te wys waarom hy tans die voorste puntemaker in die provinsiale reeks is.

Kommentaar

Republikein 2026-03-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer