Groot skade in Puerto Rico, maar hulp is min

Inwoners van Puerto Rico wag steeds vir hulp van die Amerikaanse regering ná die orkaan Maria verwoesting gesaai het.
NAMPA
Familielede het Maribel Valentin Espino gehelp om skuiling te vind toe die orkaan Maria haar gemeenskap in die noorde van Puerto Rico getref het.

Bure het vrywillige groepe gevorm, bome wat omgeval het, afgesaag, en kronkelpaaie deur die berge opgeruim ná die storm die gebied getref het. Nou verskaf vriende en 'n plaas­like beesplaas water aan gesinne om in die tropiese hitte te oorleef.

Valentin en haar man sê hulle het nog niemand van dié eiland se regering of die Federale Noodbestuurs­eenheid (Fema) gesien nie.

Dít sedert die storm die eiland op 20 September getref het, die lewens van minstens 16 mense geëis het en 3,4 miljoen mense sonder water en elektrisiteit gelaat het.

“Mense sê Fema sal ons help,” het Valentin Dinsdag gesê terwyl sy joernaliste die puin van haar huis gewys het. “Ons wag steeds.”

Baie ander mense wag ook vir hulp van enigiemand, maar die omvang van die skade is so groot en reddingswerk fokus grootliks op San Juan. Dit bring mee dat mense in landelike gebiede buite die hoofstad min of geen hulp ontvang nie.

Paaie is onbegaanbaar en ver­skeie gemeenskappe is van die buitewêreld afgesny.

Dieselfde klagtes is in die suidoostelike kusdorp, Yabucoa, gehoor. Dit was die eerste dorp wat deur die orkaan Maria getref is toe dit teen 'n spoed van 250 km/h oor die eiland gevee het.

In 'n nabygeleë rivier het mense gebad, wasgoed gewas en gemor oor die gebrek aan hulp.

Etlike duisende Amerikaanse federale werknemers in Puerto Rico help met die opruiming in die hoofstad.

Federale werkers het diesel vir kragopwekkers by hospitale voorsien. Hulle het ook die lugbeheerstelsel en krag by die lughawe herstel, waar ongeveer 100 vlugte daagliks land.

Werksaamhede by die lughawe is nog ver van normaal af.

Waarnemers sê egter die regering se bystand verskil drasties van dié toe orkane Louisiana, Texas en Florida getref het.

Orkaan Maria was die sterkste orkaan om Puerto Rico in byna 'n 100 jaar te tref. – Nampa/AP

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer