Groot kommer oor kwotas vir besproeiing
Groot kommer oor kwotas vir besproeiing

Groot kommer oor kwotas vir besproeiing

Ronelle Rademeyer
Vida Booysen

Vooruitsigte vir lentereën is steeds skraal en beper­kings is reeds op besproeiing geplaas wat ’n “groot impak” op landbouproduksie kan hê, waarsku Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA.

“Hou in gedagte dat tot 30% van ons landbouproduksie met die hulp van besproeiing geskied en daar kan groot probleme kom indien die damvlakke nie vinnig styg nie.”

Sy kommer word gedeel deur dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, wat gewaarsku het dat ’n derde droogtejaar “katastrofies” vir die land kan wees.

Hy sê ander oeste ­benewens graan is nou in gevaar en dat die droogte in besproeiingsgebiede nou ’n reuseprobleem word omdat riviere en damme begin opdroog terwyl geen oppervlakwater in die watersiklus terugloop nie.

“Ek weet van bykans geen besproeiingskema waar kwotas (vir waterverbruik) nie gesny is nie en dit kan die produksie van vrugte en groente erg knou.”

Van Zyl wys op sy beurt daarop dat vrugtebome­ (wat feitlik net van ­besproeiing afhanklik is) omtrent vier of vyf jaar neem om gevestig te raak.

“Indien vrugtebome­ vrek omdat hulle nie ­besproei kan word nie, kan dit ’n ernstige­ ­langtermynverlies beteken en derduisende werkgeleenthede kan verlore gaan.”

Landbou-uitvoer, wat verlede jaar R104 miljard beloop het, kan volgens Agbiz ook aansienlik afneem indien die land ’n derde ­agtereenvolgende droogteseisoen beleef.

“Verlede jaar het ­Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte vir die eerste keer in ’n dekade ’n daling getoon, juis weens die droogte, toe die uitvoer met 1,2% gedaal het,” sê Purchase.

Groot onsekerheid­ oor die weerpatroon vir die komende somer bestaan steeds en ­Purchase sê die georganiseerde ­landbousektor ­vergader reeds met die ­landboubemarkingsraad en die ­departement van landbou om die ­moontlike ­uitwerking van ­verskillende weer­scenario’s op die landbou te ontleed.

Hierna sal aanbevelings aan die minister van landbou gedoen word oor die beste maniere om die krisis te bowe te kom.

“Die probleem is dat die ware gevolge van die droogte nou eers ­gemanifesteer word. Waar besproeiing voorheen die stabiliteit gebied het wanneer die ­droëland-oeste misluk het, kan ons hierdie seisoen daardie vangnet ook verloor.”

Hy verwag dat nie net boere hierdeur geraak sal word nie, maar ook die landbou-ondernemings.

“Almal betaal ’n prys vir die droogte.

“Die boere loop die grootste risiko, maar landbou-ondernemings ly ook ’n reuseverlies terwyl die verbruiker deur skerp verhogings in voedselinflasie getref word.”

Suid-Afrika se reënval was verlede jaar die laagste sedert in 1904 begin is om ­reënvalsyfers amptelik aan te teken.

Die plaaslike landbousektor het ernstige skade gely en dit het daartoe bygedra dat ­voedselinflasie in Augustus vanjaar tot 11,6% geklim het. Van Zyl sê groot kommer heers oor boere se kontantvloei.

“Soos enige besigheid moet boere ook lenings met hul inkomste betaal, en vanjaar sal heelwat boere nie kan plant nie omdat hulle eenvoudig nie vir produksiekrediet kwalifiseer nie.”-Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer