Groot kabeljou van Bonanza vertel 'n storie
Hengel
                                    
                                                            Des Erasmus - 'n Insiggewende vangs van die Bonanza 2017 aangebied deur die Penguin hengelklub Dinsdag op Hentiesbaai was die kabeljou van André Coetzee van Walvisbaai, waarmee hy die kategorieprys van N$11 030 geborg deur Republikein/Erongo gewen het. 
Die kategoriewenner van 18,12 kg was ook die tweede grootste vis van die Bonanza ná die knewel van 'n kabeljou van Jacobus van der Merwe van Tsumeb wat die skaal as kampioenvis op 20,945 kg getrek het.
Coetzee het sy kabeljou by die Tweede Paaltjie op die suidstrand van Walvisbaai gevang. Van betekenis is dat dit een van die laaste kabeljoue vir 'n tydperk van drie maande in die gebied suid van Walvisbaai gaan wees.
Die stuk see tussen Walvisbaai en Sandvishawe sluit die volgende drie maande vir kabeljou om die bron te beskerm in 'n seisoen van gereelde groot togte na die broeivelde by Sandvishawe.
In die jare toe die strook steeds oop was, is massiewe kabeljouvangste in die eerste drie maande daar behaal.
Insiggewend was ook die aas wat André gebruik het om sy wenvis mee strand toe te bring. Hy het sy hoek met 'n mengsel van marsbanker en makriel gelaai – twee aassoorte wat nie aldag vir kabeljoue gebruik word nie.
Pelsers is normaalweg kabeljoukos, maar 'n moratorium op pelsersvangste in dieper water geld vir die volgende drie jaar. Die maatreël is ingestel met die oog op die heropbou van die pelserbron. Namibiese hengelaars sal dan op pelsers van Suid-Afrika en selfs Marokko aangewese wees, maar hulle is dit eens dat die gehalte van die ingevoerde produk nie naastenby dieselfde as dié van die Namibiese vissies is nie.
Dalk bied marsbanker en makriel nou die oplossing.
Die wenvis van Van der Merwe en die kategoriewenner van Coetzee is albei Dinsdagoggend met hoogwater gevang – Van der Merwe se vis om 09:15 en Coetzee se kabeljou omstreeks 09:00. Dit staaf 'n ou hengelaarsgeloof dat die stygende gety tot met hoogwater die beste vangtyd is.
Vir Coetzee was dit die tweede wenvis binne maande. Tydens die korporatiewe hengelkompetisie teen die einde van Oktober het hy ook die prys vir die grootste galjoen gewen. Daai klein vettie het die skaal op 2,8 kg getrek.
André Coetzee is 'n gebore Walvisbaier en hy hengel al sedert 1981. Op Walvisbaai is hy lid van die klub Namibpark.
Met sy vangs het Coetzee gesorg dat N$11 030 van die totale prysgeld binne die Erongostreek bly.
Die ander wenner van die Republikein/Erongo se kategorieprys van N$11 030 vir steenbras was Willem Naudé. Sy wensteenbras het die skaal op 11,83 kg getrek – byna 10 kg ligter as die wenkabeljou. Willem is 'n vakansieganger langs die kus en is van Katima Mulilo in die Zambezistreek. Vir die kompetisie het hy by die Canopy ingegooi.
Die wengaljoen van 2.06 kg was die vangs van G.J. de Wet-Vorster, terwyl Brian Stafford se kolstert van 1,42 kg die wenner in dié kategorie was.
Die kompetisie wat deur kabeljoue oorheers was, was een van die grootstes wat Penguin nog die afgelope 30 jaar aangebied het met 1 051 vistermanne wat aangetree het.
Van die wenvisse is ná die prysuitdeling vir 'n veiling deur Penguin aangebied waartydens N$5 600 vir die sorgsentrum vir verswakte bejaardes op Hentiesbaai ingesamel is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie