Groot geld vir reisende politici

Ry-en-bly oorsee per dag 'lonend'
Estelle de Bruyn
Politieke redaksie - Die reis- en verblyftoelae wat politici ontvang wanneer hulle buitelandse besoeke onderneem, was sedert onafhanklikwording in groot geheimhouding gehul. Republikein kan vandag die sluier lig oor die jongste reistariewe wat in 2008 van krag geword het en steeds geld.

Heelwat vrae is gevra oor die koste van die president se afvaardiging se besoek aan Amerika met die sitting van die algemene vergadering van die Verenigde Nasies.

Al is dit onmoontlik vir Republikein om presies die koste uit te werk, het ‘n vertroulike dokument lig gewerp op wat amptelike afgevaardigdes as reis- en verblyfgeld ontvang het. Dit sluit nie die vliegtuigkaartjies, die koste van die president se straalvliegtuig en amptelike funksies wat die Namibiese afvaardiging aangebied het, in nie.

Omdat al die ministers en amptenare ook nie dieselfde tyd as die president in Amerika deurgebring het nie, en die presiese skedule van wie vir hoe lank in watter stad was, nie bekend is nie, is dit onmoontlik om die koste te bepaal.

Wat Republikein egter kan onthul, is dat daar drie skale van tariewe is waarvolgens die reis- en verblyfgeld van reisende politici en amptenare betaal word, en dat selfs die daggeld meer is as wat sommige staatsamptenare se maandelikse salarisse is.

Indien politici en amptenare reis en vir hul verblyfkoste, eie etes en alle bykomende toevallige uitgawes soos wasgoed en vervoer verantwoordelik is, ontvang hulle reis- en verblyftoelae op Koers Een.

Die president sal volgens Koers Een vir ‘n besoek aan New York US$3 473 per dag (N$48 622)* ontvang. Sou die eerste minister na New York reis en vir alle koste verantwoordelik wees, sou die persoon US$2 498 (N$34 972) per dag ontvang, die adjunkpremier US$1 547 (N$21 658) en ‘n minister US$964 (N$13 496) per dag.

Koers Twee waarvolgens daggelde bepaal word, word betaal wanneer die verblyf reeds betaal is en nie by die daggeld ingesluit word nie.

Sou die president na New York reis en die verblyf is reeds betaal, sal die staatshoof US$1 042 (N$14 000) per dag ontvang, die eerste minister US$749 (N$10 486), die adjunkpremier US$464 (NS$6 496) en ‘n minister US$289 (N$4 046).

Die laagste koers, Koers Drie, word as reisgeld betaal as alle koste, insluitende verblyf, etes en vervoer, gedek is en die reisende politikus bloot vir onvoorsiene uitgawes moes betaal.

Indien dit die geval is, sal die president vir ‘n besoek aan New York US$521 (N$7 294) ontvang, die eerste minister US$356 (N$4 984), die adjunkpremier US$232 (N$3 248) en ‘n minister US$145 (N$2 030).

Met pres. Hage Geingob en ‘n Namibiese afvaardiging wat eersdaags na Parys, Frankryk, onderweg is, is dit interessant om kennis te neem van die feit dat indien die president op Koers Een daggeld sal ontvang hy US$2 362 (N$33 068) per dag sal ontvang, die eerste minister US$1 699 (N$23 786), die adjunkpremier US$1052 (N$14 728) en ‘n minister US$656 (N$9 184).

Sou hulle op Koers Twee vergoed word, sou die president US$1015 (N$14 210) per dag, die eerste minister US$730 (N$10 220), die adjunkpremier US$452 (N$6 328) en ‘n minister US$282 (N$3 948) ontvang.

Op die laagste koers sal die staatshoof US$354 (N$4 956) per dag, die eerste minister US$255 (N$3 570), die adjunkpremier US$158 (N$2 212) en ‘n minister US$98 (N$1372) ontvang.

Dit blyk ook uit vertroulike dokumente in Republikein se besit dat die voorsitter van die Nasionale Raad en die speaker van die Nasionale Vergadering meer kry vir daggelde as ministers. Gegewe die skeiding van magte en die drie pilare van die staat, naamlik die wetgewende, uitvoerende en regsprekende pilare, is dit vreemd dat die hoofregter, regterpresident, direkteur-generaal van die nasionale beplanningskommissie en die spesiale adviseur: nasionale veiligheid op dieselfde vlak as ministers reis- en verblyfgeld ontvang.

*Die wisselkoers is teen N$14 teenoor een US$ uitgewerk.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer