Groot gat van die Mole bly steen des aanstoots
Groot gat van die Mole bly steen des aanstoots

Groot gat van die Mole bly steen des aanstoots

Des Erasmus
Des Erasmus



Die groot gat van die Mole op Swakopmund gaan voorlopig bly.

Bouwerk aan 'n nuwe kompleks met weelderige wooneenhede, sakepersele, winkels en restaurante gaan eers vanjaar op 9 Oktober begin. Van die dag en datum word 82 weke, byna twee jaar, aan die ontwikkelaars verleen om die kompleks te voltooi.

Die vergunning is op die maandvergadering van die Swakopmundse stadsraad aan die ontwikkelaars, Jimmey Construction en die Lighthouse Property Investment Trust, gegee. Aanvanklik sou die werk op 4 Julie begin en namate die datum nader gekruip het, het die stadsraad die ontwikkelaars gewaarsku van 'n moontlike verbreking van die aanvanklike ooreenkoms.

Die toegewing deur die stadsraad bring mee dat die groot ontwikkeling in die Mole nog vir minstens twee spitsseisoene in Desember 'n steen des aanstoots vir besoekers gaan wees.

Die absolute swye oor wat van die groot gat in die Mole gaan word, het reeds tot inwonersverset gelei en juis kritiek het die ontwikkelaars as 'n tussentydse maatreël 'n sakheining om die gebied laat oprig. Steeds het besware ingestroom dat die gebied vuil, onooglik en selfs gevaarlik is vir die duisende voetgangers wat daarlangs gaan.

Die Strandpêrels, 'n groep senior burgers wat elke dag in die Mole gaan swem, se geduld is ook lankal op oor die gesleep van voete. Die pêrels het vir hul swemsessies van die geriewe van die ou Lighthouse-kompleks gebruik gemaak.

Die verkoop van die perseel van die ou munisipale swembad, erf 4747, aan die Lighthouse Property Investment Trust is reeds in Junie 2003 geneem. Al wat in die byna 14 jaar gebeur het, was die aftakeling van die ou swembad en die verwante gebou waarin die ou Lighthouse Restaurant gesetel was. Die eerste ses jaar ná die stadsraadsbesluit het verlore gegaan toe op die ministerie gewag is om openbare besware teen die transaksie te verwerp of te aanvaar. Goedkeuring vir die transaksie is eers op 30 Junie 2009 gegee. In Februarie 2010 het die stadsraad bekragtig dat die Lighthouse Property Investment Trust met die ontwikkeling kan voortgaan. Vier jaar is vir die boufase goedgekeur met 7 Julie vanjaar as die keerdatum.

Op 2 Maart vanjaar het Jimmey Construction namens die ontwikkelaars vir 'n verlenging van 7 Julie as keerdatum aansoek gedoen. Verlede jaar het Jimmey Construction twee vergaderings met verteenwoordigers van die stadsraad gehou in 'n poging om aan die vereistes van die transaksie te voldoen. Redes vir die aansoek om uitstel is verstrek. Eers moes vergunning van die estetiese komitee verkry word om met die projek voort te gaan. Verlede jaar in Maart is dit gegee. 'n Volgende vertraging was twee wysigings wat aan die planne vir die kompleks aangebring moes word ná gesprekke met die eertydse hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit. Elke keer moes na die argitekte teruggegaan word. Die wysigings het hoofsaaklik op die handelsdeel van die voorgestelde kompleks betrekking gehad.

Nou word weer op die goedkeuring van die erfeniskomitee van Swakopmund gewag voordat met die projek begin kan word.

Nou word onderneem dat op 9 Oktober met die voorbereiding van die terrein en die bouwerk begin gaan word. Die einddatum vir die voltooide kompleks word as 27 Maart 2020 gestel.

Kommentaar

Republikein 2025-08-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer