Groot eer vir Mensah-Williams
Die voorsitter van die Nasionale Raad is onlangs deur die Internasionale Parlementêre Unie én die Merck-stigting in sleutelposisies aangestel.
Die voorsitter van die Nasionale Raad (NR), me. Margaret Mensah-Williams, is onlangs in twee hoëprofielposisies aangestel.
Die Interparlementêre Unie (IPU) se Werkgroep belas met Sirië het tydens die 137ste vergadering van die IPU in St. Petersburg, Rusland, vir Mensah-Williams tot visepresident verkies.
Hierdie werkgroep is tot stand gebring om praktiese maatreëls te ondersoek om 'n inklusiewe en omvattende politieke skikking in Sirië te bewerkstellig.
Volgens Mensah-Williams is die wêreld se parlementariërs gretig om tot oplossings vir die krisis in Sirië by te dra, en veral om 'n einde aan die lyding van die land se mense te maak.
Lede van die werkgroep het op die volgende plan ooreengekom: Vergaderings sal met 'n afvaardiging van die Siriese parlement, asook met relevante parlemente van die streek gehou word, waar die werkgroep se hulp en ondersteuning aangebied sal word.
'n Vennootskap sal ook met die Siriese parlement aangegaan word om bystand te verleen met die opstel van 'n konsepverkiesingswet, asook met 'n grondwet en om kapasiteit te bou.
Lede van Sirië se opposisie, binne sowel as buite Sirië, asook voormalige parlementariërs, sal geïdentifiseer word en ontmoetings sal met hulle gereël word.
'n Sending na Sirië word beplan om ter plaatse ondersoek in te stel en om pres. Bashar al-Asad van Sirië, verskillende faksies in die Siriese parlement, asook opposisiegroepe wat nie in die parlement verteenwoordig is nie, te ontmoet.
Die werkgroep bestaan uit ses lede van die IPU se werkgroep, waarvan Mensah-Williams 'n lid is, en een lid van elk van die wêreld se geopolitieke streke.
MEER AS 'n MOEDER
Benewens die posisie by die IPU is Mensah-Williams ook as die ambassadeur van Merck se Meer as 'n moeder-veldtog vir Namibië aangestel.
Die veldtog is deur die Merck-stigting en vennote dwarsoor Afrika van stapel gestuur.
“In baie kulture kleef 'n stigma aan kinderlose vroue en hulle ondervind diskriminasie en uitsluiting. 'n Onvermoë om swanger te raak, kan tot egskeidings asook fisieke en sielkundige geweld lei,” het Mensah-Williams gesê.
“Ek wil myself beywer daarvoor dat gesindhede verander en vroue en mans opgevoed word oor hierdie ernstige maatskaplike probleem. Ek is dankbaar om deel van hierdie projek te wees. Ek is oortuig daarvan dit sal bydra om Namibië en Afrika se maatskaplike ontwikkelingsdoelwitte te verwesenlik,” het sy gesê.
Die Meer as 'n Moeder-veldtog beoog onder meer om 'n kulturele verskuiwing teweeg te bring om die stigma van onvrugbaarheid te verwyder en respek en waardering vir onvrugbare vroue in Afrika te bewerkstellig.
Voorts wil die veldtog bewusmaking bevorder oor hoe om onvrugbaarheid te voorkom deur dit in die gesondheidsektor te integreer.
Die opvoeding en opleiding van Afrika-embrioloë sal bevorder word omdat die gebrek aan opgeleide en ervare personeel op hierdie gebied 'n groot uitdaging in Afrika is.
Ondersteuning sal ook aan beleidmakers gegee word om met beleide vorendag te kom om toegang tot vrugbaarheidsorg te verbeter en om dit te reguleer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie