Groot Aub-moordenaar skuldig
Groot Aub-moordenaar skuldig

Groot Aub-moordenaar skuldig

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw

Regter Nate Ndauendapo het Vrydag in die hoërhof uitspraak gelewer in die verhoor van ’n man wat op klagte van moord, dwarsboming van die gereg en aanranding tereggestaan het.
Volgens Ndauendapo is Gregory Kangandjera bo enige redelike twyfel skuldig bewys.
Kangandjera het ’n man, Ipuleni Natangwe, wat glo met sy meisie, Loretta Kruger, geflikflooi het, op 13 November 2010 by die Mafia Bar op Groot Aub geslaan. Nadat Natangwe gevlug het, het Kangandjera hom na Kruger gewend en haar geklap en in die ribbes geskop.
Later daardie aand het hy, bygestaan deur sy neef, Jacob Kangandjera, vir Kruger na sy huis gedra. Die volgende dag is sy gesien met ’n geswelde gesig en blou merke aan haar gesig en liggaam. ’n Paar dae later is haar liggaam onder ’n boom gevind met ’n tou om haar nek en nog ’n stuk tou wat om ’n tak van die boom gedraai is. Die hof het bevind dat dit Kangandjera was wat haar van die huis na ’n boom in die rivierbed gesleep het. Hy het ’n tou om haar nek gedraai en ’n toneel geskep om dit te laat lyk asof die oorledene selfmoord gepleeg het.
Kruger se liggaam is op 18 November 2010 in die /Uheros-gebied, ook bekend as Verdruk, deur ’n skaapwagter onder ’n bos ontdek. Kangandjera het na die ontdekking aan die polisie en ander mense vertel dat die oorledene selfmoord gepleeg het.
’n Nadoodse ondersoek het bevestig dat sy nie selfmoord gepleeg het nie. Volgens ’n dokter se getuienis sou die oorledene se beserings dit baie pynlik vir haar gemaak het om te beweeg en dit sou onmoontlik vir haar wees om in ’n boom te klim en ’n tou daarom te bind. Die dokter het ook getuig dat die tou om die oorledene se nek hori­sontaal was, wat aandui dat sy verwurg is.
Ten spyte van verdoemende getuienis teen hom, het Kangandjera onskuldig gepleit.
Die staatsadvokaat het tydens die verhoor uitgewys dat Kangandjera drie vorige skuldigbevindings teen hom het: Op 22 Oktober 1992 is hy gevonnis vir diefstal en ’n dreigement om ’n persoon aan te rand; op 26 Oktober 1996 is hy ’n boete van N$1 000 opgelê vir huisbraak en daarna is hy tot vier jaar gevangenisstraf vir poging tot moord gevonnis.
Regter Ndauendapo sal die vonnis op 15 Augustus bekend maak.
Kangandjera se regsverteenwoordiger is mnr. Joshua Kaumbi met adv. Palmer Khumalo wat vir die staat optree.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer