Groot aankondiging oor Zuma verwag
Groot aankondiging oor Zuma verwag

Groot aankondiging oor Zuma verwag

Was gister (Woensdag) D-Dag vir pres. Jacob Zuma om as staatshoof te bedank?

Dít is waarskynlik die vraag waarop alle Suid-Afrikaners ’n antwoord soek en waarvoor hulle asem ophou. Alle oë was daarom Woensdag op adj.pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-president, vasgenael om duidelikheid hieroor te verskaf.

’n Duidelike teken dat dinge wel agter die skerms aan die gebeur is, was toe Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, Woensdagoggend aan die televisienuuskanaal eNCA gesê het dat sy verwag dat Ramaphosa Woensdag nog met haar in verbinding sal tree en waarskynlik ’n groot aankondiging aan die land sal maak.

Dít kon egter nog nie Woensdagoggend onafhanklik bevestig word nie.

Die onsekerheid oor Zuma se onmiddellike politieke toekoms het egter Dinsdag drasties verhoog nadat Mbete en Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, aangekondig het dat die staatsrede, wat Zuma Donderdagaand sou lewer, uitgestel is.

Dit het ook verder verdiep toe die ANC Dinsdagaand laat aangekondig het dat ’n spesiale vergadering uitgestel is wat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) Woensdag in Kaapstad sou hou.

Dít nadat Ramaphosa en Zuma “vrugbare en konstruktiewe” gesprekke gedurende ’n vergadering Dinsdag in Kaapstad gehad het.

Die NUK-vergadering sou Zuma se lot bespreek nadat hy Sondagaand met die ANC se topsesleiers in Pretoria vergader het en daar Maandag ook ’n dringende vergadering van die ANC se nasionale werkkomitee in Johannesburg daaroor was.

Daar is tans druk van binne die ANC op Zuma om te bedank, sowel as van opposisiepartye wat dreig om weer ’n nuwe mosie van wantroue én ’n staat van beskuldiging teen hom in te dien as hy nie afstaan nie.

Teen druktyd was daar nog geen amptelike aankondiging nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer