Groot
Verlede week het die Departement Taal- en Literatuurstudie aan Unam sy jaarlikse navorsingskollokwium gehou, waartydens kollegas met mekaar gesels oor die navorsing wat hulle voltooi het of mee aan die gang is. ’n Spaanse kollega praat toe oor die semantiek van dimensionele adjektiewe, bv. groot soos in groot tuin. Die referaat het almal weer herinner aan die konteksafhanklikheid van taal en dat nie alle woorde se betekenis absoluut is nie. Ons sou byvoorbeeld ’n tegnies baie presiese en akkurate definisie van die woord hardloop kon formuleer: Miskien sou ons kon spesifiseer teen watter spoed loop oorgaan tot hardloop, watter treetempo die drempel sou wees, ens. Maar wat maak ons met ’n woord soos groot? Terwyl ’n woord soos hardloop ’n definitiewe betekenis het, verander die betekenis van ’n adjektief soos groot elke keer wanneer ons hom gebruik. Dit laat dink my aan Blackadder van die BBC se woordeboekdefinisie vir die woord kat: “nie ’n hond nie”! Ons kan nie groot definieer as “nie klein nie” nie! ’n Sinnetjie wat die konteksafhanklikheid mooi illustreer, is: “’n Klein olifant is ’n groot dier.” Hoe klein moet ’n olifant wees om klein te wees, en hoe groot moet ’n dier wees om groot te wees. Wat hier ’n rol speel, is buitetalige norme. Ons elkeen het in ons koppe ’n idee van wat die normale grootte van ’n dier of olifant is op grond van dít waaraan ons in die wêreld blootgestel is, en dis belangrik om te besef dat hierdie normaalwaarde kan verskil van persoon tot persoon, van kultuur tot kultuur.
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Prof. Herman Beyer
Vakgroep Afrikaans
Universiteit van Namibië
[email protected]
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie