Grondbelasting op die spits gedryf
Grondbelasting op die spits gedryf

Grondbelasting op die spits gedryf

Die omstrede waardasiehof en grondbelasting het gisteroggend opnuut onder skoot gekom.
Denver Kisting
Denver Kisting



Meer as 'n duisend boere behoort teen volgende Woensdag te weet hoe sake staan wat die moontlike uitstel van hul grondbelastingaanslae en die betaal van belasting betref, hangende 'n appèl oor hul grondwaardasies.

Hul grondbelasting word op dié waardasies geskoei en volgens hulle is daar ernstige gebreke met die manier waarop hierdie berekeninge gedoen word.

Gister se dringende aansoek in die Windhoekse hoërhof spruit uit teenkanting van duisende boere teen 'n voorlopige 2012-waardasierol waarvolgens grondbelasting bepaal word. Gedurende September tot November 2016 het die waardasiehof – wat volgens die boere ook nie reg saamgestel is nie – verskeie uitsprake gelewer wat met die kritiek op die konsepwaardasierol verband hou. So lui die betooghoofde van twee plaasboere van Traupe Farming en Mapan Boerdery wat namens sowat 1 000 van die boere die aansoek gebring het.

Omdat baie van die boere nie met dié uitsprake saamgestem het nie, het hulle in ­Desember 2016 daarteen appèl aangeteken.

Naas die appèl het hulle ook om hersiening van verskeie beweerde “talle onreëlmatighede” van die waardasiehof aansoek gedoen.

Die betooghoofde lui voorts die twee boere staan vir die dringende aansoek pa, hoewel die redes daarvoor deur al 1 106 van die boere ondersteun word. Omdat dit volgens hulle té omslagtig sou wees om soveel partye by die geding te voeg, is daar op dié twee boere-­ondernemings besluit.

Hulle trek skerp te velde teen 'n bewering dat die aansoekers nie tans belasting betaal nie. Volgens hulle doen die ministerie van grondhervorming moeite om hulle in 'n slegte lig te stel weens dié aantyging. Hulle sê hulle kom in die stadium volgens die 2007-rol hul belastingverpligtinge na.



Grondwet 'ondermyn'

Die boere voer voorts aan hul grondwetlike reg op 'n regverdige verhoor en dié wat met administratiewe geregtigheid verband hou, is op die spel.



Advokaat Andrew Corbett het die hoërhof in Windhoek gisteroggend aangespreek oor die dringendheid van die saak omdat die belasting teen einde Maart vereffen moet word.

Namens die regering is gister aangevoer die boere se versoek om belastingaanslae en grondbelasting asook die dringendheid daarvan het geen meriete nie, en behoort met 'n kostebevel van die hand gewys te word.



Saak van nasionale belang

Corbett het egter geantwoord “dit is 'n saak van nasionale belang” wat die dringend­heid daaran regverdig.

Republikein het in Januarie berig die Namibië Landbou-unie (NLU) het boere by monde van sy president, mnr. Ryno van der Merwe, gemaan om hul wetlike plig na te kom en belasting te betaal, veral as die uitspraak in die dringende aansoek nie voor 30 Maart gelewer sou word nie. Dit is die datum waarop grondbelasting luidens 'n kennisgewing deur die grondhervormingsministerie betaalbaar word. Van der Merwe het toe benadruk die NLU skaar hom by die betaling van grondbelasting, mits dit billik, regverdig en bekostigbaar is. Die boere is onder meer ontstoke oor verhogings in grondbelasting van tot 900% waartoe die 2012-rol na bewering aanleiding gegee het. Dié toename is aangeteken sedert die vorige rol van 2007. 'n Ander doring in die boere se vlees het ontstaan toe die waardasiehof in 2016 beslis het die omstrede waardasiemetodes bly geldig ondanks die teenkanting. Adjunkregterpresident Hosea Angula het gister aangedui hy sal volgende Woensdag om 08:30 uitspraak oor die dringende aansoek lewer.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer