Groen lig vir bekostigbare behuising
Na verwagting sal die president meer as 'n duisend huise in Walvisbaai oorhandig.
Otis Finck in Walvisbaai
Die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, sê sy is tevrede met huise wat deur 22 kontrakteurs in Walvisbaai gebou word.
“Ek verwag pres. Hage Geingob sal teen Junie vanjaar meer as 'n duisend sleutels aan nuwe huiseienaars oorhandig,” het sy gister gesê.
Shaningwa het die bouterrein van die nuwe behuisingsprojek besoek waar werk verlede jaar begin is. Sy het gesê sy is tevrede met die vordering en het die burgemeester beveel om kontrakteurs wat aan die bouvereistes voldoen het, in te lig dat hulle met die konstruksie van meer as 1 200 huise kan voortgaan.
“Die kontrakteurs het bewys hulle kan behoorlike huise vir minder as N$500 000 bou. Ek het gesien hoe twee- en drieslaapkamerhuise binne twee weke gebou is. Dit beteken Namibiërs kan doeltreffend en koste-effektief werk,” het Shaningwa gesê.
Die minister het herhaal sy stel nie in huise duurder as N$500 000 belang nie en het gesê sy sal slegs huise oorweeg wat tussen N$200 000 en N$500 000 kos.
“Verskeie finansiële instansies was positief oor die projek. Standard Bank het die terrein besoek en gesê hulle sal verbande verskaf vir die huise wat gebou word. FNB het dieselfde gedoen,” het sy gesê.
'n Aansoek vir grond op Plaas 37 om 'n nuwe nedersetting te vestig is deur die raad by die Namibiese beplanning- en adviesraad (NAMPAB) ingedien. Shaningwa het hieroor gesê sy het raadslede aangeraai om die korrekte aansoeke vir grond aan haar ministerie deur die kantoor van die permanente sekretaris in te dien.
“NAMPAB is deel van die ministerie. Ek sal verseker dat enige probleme wat tans ondervind word, uit die weg geruim word. Die grond behoort aan die regering en ministeries moet besef daar is 'n behoefte aan uitbreidings aangesien 'n gebrek daaraan tot druk kan lei,” het die minister gesê.
Die munisipaliteit van Walvisbaai het verlede jaar 44 residensiële erwe in Uitbreiding 5 agter die Tutaleni-nedersetting aan 22 uitgesoekte kontrakteurs toegeken vir die konstruksie van 44 laekoste huise – uit hul eie sak.
Die projek in Walvisbaai word as 'n siftingsproses vir kontrakteurs gesien. Slegs 'n paar sal na die volgende fase vorder, wat 'n evalueringsproses behels om te bepaal wie die vermoë het om 'n verdere 900 huise te bou.
Mense op die munisipaliteit se waglys het nou die geleentheid om die huise te bekyk en te besluit wat hulle kan bekostig.
Die projek spruit uit 'n inisiatief deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling en die ministerie van finansies.
Die plan is dat meer as 'n duisend bekostigbare huise op spesifieke terreine deur dié inisiatief opgerig sal word, met sowat 2 000 huise wat in Walvisbaai gebou sal word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie