Groeiende stad druk rioolstelsel

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Windhoekse munisipaliteit erken sekere rioolpype in die stad moet opgradeer word om die groeiende getal stadsbewoners te akkommodeer.

Terselfdertyd beloof hulle om die rioollekkasie by hul Pahl Quelle-pompstasie “met verloop van tyd” te herstel.

Die munisipaliteit het die inligting bekend gemaak nadat Republikein verlede week navrae gedoen het toe klagte ontvang is van ‘n rioollekkasie langs die pompstasie, wat aan die sykant van die munisipale hoofgebou verbyloop.

Volgens bronne is die lekkasie al weke gelede gerapporteer, alhoewel dit steeds verby die ingang na die munisipale vloot en oor die parkering voor die Nuwe Apostoliese Kerk tot in Gartenstraat geloop het.

Tydens ‘n besoek het munisipale voertuie heen en weer oor die lekkasie gery om in en uit hul parkeerarea te beweeg.

Die munisipalte woordvoerder, mnr. Harold Akwenye, het gister aan Republikein bevestig dit word deur ‘n gebreekte rioolpyp veroorsaak en sal “met verloop van tyd” herstel word.

Akwenye het gesê hul afdeling wat verantwoordelik is vir die bestuur van die stad se rioolwater, is die eerste keer op 14 Februarie van die probleem in kennis gestel - op dieselfde dag dat Republikein die navrae gerig het.

Op die vraag wanneer die rioollekkasie herstel sal word, het hy gesê kontrakteurs wat besig is om ander lekkasies en -oorlope te herstel, sal herontplooi moet word sodra hulle die werk afhandel waarmee hulle tans besig is.

Akwenye sê daar is N$8 miljoen vir rioolvervangings in die huidige boekjaar opsy gesit.

“Ons is in die finale stadiums van die proses om konsultante te kry vir die opstelling van ‘n geïntegreerde meesterplan vir die stad se water- en rioolstelsels,” het hy gesê.

“Die doel van die meesterplan is om vas te stel waar bestaande dienste opgradeer moet word en dit sal ook as leiding in die beplanningsproses dien,” het hy geantwoord op die vraag of Windhoek se rioolstelsel oorlaai en verouderd is, en of riooloorlope tans meer gereeld voorkom.

“Dit is die munisipaliteit se prioriteit om ‘n higiëniese omgewing te verseker en daarom sal ons ons heel beste doen om seker te maak die openbare gebiede veilig is,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer