Griekwas laat Vrystaat diep delf vir sege
Griekwas laat Vrystaat diep delf vir sege

Griekwas laat Vrystaat diep delf vir sege

Rugby
Owen Kock – “As jou ingesteldheid nie reg is nie, maak jy dit moeilik vir jouself en dan wys dit.”
Dit is die mening van Hawies Fourie, afrigter van die Vrystaat-Cheetahs, nadat sy span Griekwas Vrydag in Bloemfontein met 31-21 geklop het.
Dit was egter nie maklik nie.
Die spanne was rustyd met 14-elk kop-aan-kop in die tweede en laaste oefenwedstryd voor die Superrugby Unlocked-reeks volgende week begin.
“Ek is seker die aankondiging die week dat ons uit die Pro14-reeks is, het iets te make gehad met vandag se vertoning, maar ek dink ons het steeds goed gedoen om die wedstryd te wen,” sê Fourie.
Hoeveel meer Fourie en sy Griekwas-eweknie, Scott Mathie, wyser geword het, sal eers volgende week gesien word wanneer die plaaslike reeks begin.
Wat egter uitgestaan het in Vrydag se wedstryd, is dat daar nie in die plaaslike reeks oor Griekwas geloop gaan word nie. Die Vrystaat moes hard veg vir hulle punte en daarby was die Poubloues se aanvalswerk iets om te aanskou.
Dit was die besoekers se agterlyn wat die opwindendste aanvalle geloods het, terwyl die Vrystaters veral in die eerste helfte vir ’n vale moes verdedig.
Die Poubloues het vinnig ’n voorsprong met 14-0 opgebou nadat hulle opwindende rugby opgedis het.
Vir die eerste kwartier moes die tuisspan net verdedig, anders sou die telbord van 14-elk dalk heelwat anders gelyk het.
Ruan Pienaar, kaptein van die Vrystaat, erken dat hulle in daardie eerste 20 minute glad nie goed gespeel het en ook nie kon doen wat hulle wou nie.
“Ons het baie foute gemaak, wat teen ons getel het, daarom is die week wat voorlê vir ons van kardinale belang,” sê hy.
Hy meen Griekwas gaan die seisoen nog ’n paar groot spanne skrikmaak.
Die Vrystaat kon eers kort voor rustyd punte aanteken en ná rustyd het hulle stelselmatig beter begin speel om Griekwas tot oorgawe te dwing. Drie van hul drieë het gekom nadat hulle met rolmale oorgedryf het.
Mathie het op sy beurt aan Marnus Kok gesê, sy span het aansienlik beter as verlede week vertoon.
“Dit telling was 21-elk ná omtrent 50 minute en ons het baie veranderinge gemaak. Ek was tevrede met hoe ons die bal behou het en die enigste plek waar ons nie goed was nie, was in die lynstane,” sê Mathie.
“Hulle het gesukkel om punte aan te teken en ons het baie geleenthede geskep. Ons kon selfs gewen het. Die wedstryd was nog ’n tree nader aan volgende week se kragmeting (met die Bulle) waarvoor ons reg sal wees.
“Daar is ’n paar spelers met ligte skete, maar ons sal eers Maandag weet of dit ernstig is, nadat die spelers 48 uur gehad het om uit te rus.”
Vir Griekwas het hul linkervleuel James Verity-Amm beïndruk met sy dartellopies en vir die Vrystaat kan Pienaar, die senter Howard Mnisi en die agsteman Jasper Wiese meer as tevrede voel met hul vertonings. – Netwerk24

FOTO
Ruan Pienaar het erken hy sy spanmaats het Vrydag te veel foute teen Griekwas gemaak en sal dit moet regstel voor volgende week se Superrugby Ulocked-wedstryd teen die Pumas in Bloemfontein. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer