Grieke boos oor Macedoniu00eb se naam
Grieke boos oor Macedoniu00eb se naam

Grieke boos oor Macedonië se naam

Die polisie het Sondag traanrook ingespan om betogers buite die parlement in Athene, Griekeland, uiteen te jaag.

Die betogers het opgeruk teen aanstaande week se bekragtiging in die parlement oor die naam Macedonië.

Kragtens die ooreenkoms tussen Griekeland en die voormalige Joego-Slawiese republiek van Macedonië sal dié republiek as Noord-Macedonië bekend staan.

Dit sal Noord-Macedonië in staat stel om by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie en die Europese Unie aan te sluit.

Betogers het van reg oor Griekeland gekom om te betoog teen die opkomende bekragtiging van die naam.

Baie Grieke meen die naam Macedonië verwys na ’n territoriale eis, met verwysing na Griekeland se Macedonië wat in die noorde van Griekeland geleë is.

Die kwessie ontlok groot reaksie onder Grieke wat Macedonië – die antieke ryk waaroor Alexander die Grote regeer het – as ’n onteenseglike deel van hul tuisland en herkoms sien.

Die 67-jarige Amalia Savrami het met ’n groot Griekse vlag betoog. “Ons kan dié ooreenkoms nie verduur nie; om só ons Macedonië, ons geskiedenis, weg te gee,” het sy gesê.

Volgens die polisie is tien amptenare in die betogings beseer nadat hulle met klippe en petrolbomme bestook is. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer