Gordhan: Ek is aanhoudend gesmeek om in te gryp
Gordhan het drie maande gelede 'n hofaansoek ingedien om 'n verklarende bevel te kry oor die minister van finansies se kapasiteit om in te gryp indien banke stappe teen hul kliënte doen.
Nellie Brand-Jonker
Die Gupta-maatskappy Oakbay het hom “aanhoudend gesmeek” om in te gryp, het Pravin Gordhan, minister van finansies, in sy mees onlangse hofstukke in die hofsaak oor die groot banke se optrede teen dié familie se ondernemings, gesê.
Gordhan het drie maande gelede 'n hofaansoek ingedien om 'n verklarende bevel te kry oor die kwessie of die minister van finansies mag ingryp indien banke stappe teen hul kliënte doen.
Dit kom nadat die groot banke waar die maatskappye van die omstrede Gupta-familie sake doen se bankrekeninge gesluit is.
Nadat hy al in Oktober die hofaansoek ingedien het, het die Gupta-maatskappy Oakbay op 20 Januarie in die hof daarop gereageer.
Gordhan het Maandag sy reaksie op hul hofstukke aan die media uitgereik.
In sy beëdigde verklaring word gesê sy aanvanklike hofaansoek is bondig en tot 13 bladsye beperk en handel oor 'n suiwer regskwessie.
Daarenteen het Oakbay 'n lywige reaksie van 437 bladsye daarop ingedien.
Volgens hom kapituleer Oakbay oor die kernsaak waaroor die hof moet besluit.
“Oakbay aanvaar nou onomwonde die formele standpunt dat ek, as minister van finansies, inderdaad geen regsgesag het of plig om die verhouding tussen 'n bankier en sy kliënte in te gryp nie,” het Gordhan gesê.
“Nadat Oakbay my aanhoudend gesoebat het om in te gryp, verskuif hy nou sy posisie . . . omdat hy nou aanvaar daar is inderdaad geen regsgronde vir hom om druk op my uit te oefen om die banke te oorreed om die toepassing van teen-geldwassery- en verwante wette en standaarde om te keer nie.”
Gordhan het verlede jaar 'n verslag van die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS) aangeheg aan sy hofaansoek waarin inligting oor 72 verdagte transaksies verskaf is.
Gordhan sê dit is beduidend dat Oakbay nie die dokument betwis nie.
“Dit maak enige beswaar van Oakbay teen die dokument ontoelaatbaar in die hof . . .”
Bron van kommer
Hy het in reaksie oor die gronde vir sy aansoek gesê 'n transaksie soos die Optimum Mining Rehabilitation Fund (van R1,3 miljard) waarna in die FIS-verslag verwys word, is 'n bron van kommer vir die tesourie omdat dit verdag is en kwessies na vore bring oor hoeveel van die geld herwin kan word en watter las die rehabilitasie van myne op die fiskus gaan plaas.
Oakbay voer aan Gordhan se aansoek is polities gemotiveerd.
“Daar is geen meriete in hierdie aantyging nie, dit is eenvoudig lasterlik,” het Gordhan gesê.
Gordhan sê Oakbay het nou in sy hofstukke aangevoer hy sit agter 'n groot politieke sameswering teen die Guptas.
“Ek ontken die bewering van 'n vendetta teen die Guptas.
“Om die waarheid te sê, wat reeds ontbloot is, is 'n sistematiese en hoogs georganiseerde veldtog deur die Gupta-familie en sy genote teen die nasionale tesourie, myself en ander teikens.”
Gordhan verwys na die staatskapingverslag wat deur die openbare beskermer uitgereik is. Die verslag is uitgereik nadat hy sy hofaansoek ingedien het.
“Oakbay erken self sy maatskappye se bande met persone wat politieke bande het. Dié bande wat banke se kliënte met polities blootgestelde persone het, laat banke se nasionale en internasionale regspligte in werking tree.”
Hy sê Oakbay se bankrekeninge is gesluit omdat elkeen van die banke geglo het dat hulle 'n regsplig in hierdie verband het en moet optree.
“Oakbay ontken dit nie. Dus word aanvaar hulle stem daaroor saam.”
Gordhan voer aan daar is nie werklik 'n geldige teenkanting teen sy aansoek nie en Oakbay se teenkanting is onredelik.
Al die groot banke en die Reserwebank, asook die FIS het hofstukke ingedien wat sterk ondersteuning aan Gordhan se aansoek bied.– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie