Google met R67 mjd. beboet ná 'misbruik'
Petrus Malherbe
Die Europese Unie (EU) het gister 'n reusagtige boete aan Google opgelê vir die misbruik van sy Android-bedryfstelsel om sy eie belange te bevorder. Trouens, teen €4,34 miljard (nagenoeg R67,3 miljard) is dit die grootste boete wat die EU nog ooit opgelê het.
Die boete spruit uit klagtes dat Google vervaardigers dwing om sy apps op nuwe Android-fone te installeer. Margrethe Vestager, voorsitter van die Europese Kommissie, het ná 'n jare lange ondersoek bevind die tegnologiereus tree onbillik op teenoor ander skeppers van apps, aangesien die meeste gebruikers waarskynlik nie eens sal besef daar is ander opsies as die apps wat reeds saam met nuwe fone verpak word nie.
In haar uitspraak het Vestager aangedui dat Google binne 90 dae sy teenmededingende gedrag moet staak of hy sal verder beboet word.
Die Amerikaanse maatskappy het reeds aangedui hy sal teen die uitspraak appelleer. Die BBC berig egter sou Google versuim om sy gedrag binne die volgende drie maande te verander, kan die EU hom elke dag 5% van sy moedermaatskappy, Alphabet, se gemiddelde daaglikse inkomste beboet. Gegrond op die maatskappy se jongste finansiële verslag kan dit tot US$14 miljoen per dag beloop. Volgens Vestager het Google doelbewus sy oorheersing in die mark vir soekenjins en ander apps op gebruikers afgedwing, iets wat onwettig is onder Europese wetgewing. Google sê dit staan enige gebruiker vry om sy apps uit te wis en ander te gebruik, maar volgens Vestager besef die meeste mense dit nie.
“(Google se gedrag het) ander maatskappye die kans ontneem om mee te ding en te innoveer. Dit het Europese verbruikers die voordele van mededinging, ware keuse en innovasie geweier,” sê sy.
Google moes in 2017 ook US$2,8 miljard opdok vir teenmededingende gedrag in die e-handelbedryf. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie