Goewerneur vra om verskoning
Estelle de Bruyn - Pres. Hage Geingob moes persoonlik ingryp om die onmin in die Omahekestreek tussen die Ovaherero en die streek se goewerneur, mnr. Festus Ueitele, te beëindig.
Gevolglik het die goewerneur Woensdag op ‘n mediakonferensie op Gobabis sy verskoning aan die gemeenskap gebied.
In ‘n mediaverklaring voer hy aan dat sy “jeugdigheid” die blaps meegebring het.
“As jong mense wat openbare ampte beklee, is ons nie altyd bevoorreg om gementor en gelei te word deur ons senior leiers wat ons in hierdie poste aangestel het nie,” sê Ueitele.
Die verskoning spruit uit opmerkings wat Ueitele tydens ‘n gesprek met Bakgalagadi ba Namibia se hoof, Hubert Ditsabue, en sy dogter, Josepha Ditsabue, die tesourier van die Swaporaad van Vroue, gemaak het. Dié opmerkings is op band opgeneem.
In die gesprek het Ueitele die twee gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle met Ovaherero-mense te make kry, aangesien die Ovaherero “die soort mense is wat nie respek vir ander stamme het nie en rugstekers is wat ander stamme tot hul eie voordeel sal gebruik”.
Geingob het op 13 Julie ‘n brief aan Ueitele geskryf waarin hy aangeraai word om verskoning vir die onvanpaste opmerkings aan die gemeenskap te bied.
Geingob het onder meer aan Ueitele geskryf: “Ten slotte, kameraad goewerneur, gegewe die onwelkome atmosfeer wat ontstaan het ná die onthullings oor wat jy gesê het, is dit gebiedend noodsaaklik dat jy konkrete stappe doen om kalmte te bring deur middel van ‘n openbare verskoning aan die Ovaherero-gemeenskap ten einde die gees van vrede, eenheid en vertroue in die Omahekestreek te herstel.”
Ueitele het “uit die diepte van sy hart” sy “onvoorwaardelike verskoning” aan die Ovaherero-gemeenskap gebied en hul vergiffenis gevra. Hy het die verskoning selfs wyer aangebied aan “enige gemeenskap of individu vir wie ek aanstoot mag gegee het.”
“Ek onderneem om, sonder enige diskriminasie, met alle gemeenskappe in die streek saam te werk sodat geen gemeenskap of individu uitgesluit mag voel nie. Ek doen ‘n beroep op alle inwoners van die Omahekestreek om hande te vat in die gees van nasionale versoening asook die Harambee-welvaartplan sodat ons die sosioëkonomiese ontwikkeling van ons streek kan verhaas.
“My kantoor is oop vir almal, veral my oudstes in ons streek, om te kom en met hul wyse raad my te mentor en leiding te gee sodat ons saam die Omahekestreek na groter hoogtes kan neem,” sê Ueitele.
Hy sê voorts hy sal voortgaan om in kontak met tradisionele leiers, veral dié van die Ovaherero-gemeenskap, te bly sodat ‘n gees van vrede, eenheid en vertroue in die streek geskep sal word.
Hy het ook daarop gewys dat sy besoek aan Staatshuis op 4 April vanjaar op sy versoek was om Geingob oor die politieke situasie in die streek op hoogte te bring. Hy ontken dat hy deur Geingob ontbied is.
Nampa berig dat ondanks die verskoning, Ueitele by die mediakonferensie erken het dat pogings “deur sommige mense aangewend word om nie-Ovaherero uit prominente poste in die streek te ontsetel.”
Hy het ook verduidelik dat sy omstrede opmerkings na “sekere individue” en nie alle Ovaherero-mense verwys het nie.
Die goewerneur voer aan dat Josepha, wat die opname gemaak het, “deur ander mense gebruik is.”
“As ‘n leier is ek bewus daarvan dat iets alreeds beplan was. Sy is gebruik.”
Hy het gesê hy is nie kwaad vir Josepha nie. Hy wou hom nie uitlaat oor berigte van verdeeldheid in Swapo-geledere in die streek nie en het navrae na die party se streekkoördineerder verwys.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie