Goewerneur ontlont situasie in Narraville

Leandrea Louw
Kuskantoor - Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het inwoners van Walvisbaai oor die omstrede kwessie van die Covid-19-begraafplaas aan die buitewyke van die dorp toegespreek.

Andre het die gemeenskap verseker dat geen Covid-19-verwante begrafnisse daar sal plaasvind nie.

Hy het ook die gemeenskap aangeraai om ’n komitee van vyf mense aan te stel wat met amptenare in gesprek sal tree.

Hy het gesê hy sal na idees en alternatiewe voorstelle oor die pad vorentoe luister.

“Ons is hier om Covid-19 te bekamp en ons moet versigtig wees. Ek wil na julle probleme luister. Dink wat julle vir ons wil sê sodat ons dit verder kan vat en oplossings vind. Ons is nie hier om te baklei nie. Dit is ’n saak van lewe en dood en moet nie gepolitiseer word nie,” het hy gesê.

Mnr. Dario Benson, woordvoerder vir die besorgde gemeenskap, het ’n beroep op leiers gedoen om die saak dringend aan te spreek.

“Die mense is emosioneel en benodig antwoorde. Eerstens wil ons hê die liggaam van die persoon wat hier begrawe is, moet op ’n ander plek begrawe word. As dit goed genoeg is om ’n persoon in 'n oop stuk grond te begrawe, moet dit goed genoeg wees om die persoon by enige ander begraafplaas te begrawe. Tweedens wil ons nie ’n Covid-19-begraafplaas op ons voorstoep hê nie. Ons sal geen verder begrafnisse hier toelaat nie,” het hy gesê.

Benson sê die land is nou in die vyfde maand van hoktyd en daar was genoeg tyd om behoorlike voorbereidings te tref.

“Hoekom is daar so lank gewag om op te tree? Die plek is nie ’n begraafplaas nie. Dit is eintlik ’n vullisstortingsterrein. Julle het ons ook nie geraadpleeg toe julle die besluit geneem het nie. Soek asseblief ’n ander plek om mense te begrawe.”

Verskoning

Die goewerneur het gesê hy het op sosiale media gesien die inwoners is ontevrede.

“Ek het onmiddellik die burgemeester geskakel en gesê dat ons na die gemeenskap moet luister. Ek het met die amptenare wat vir die eerste begrafnis verantwoordelik was gekonsulteer om antwoorde te vind.”

Andre sê daar is ’n Covid-19-komitee aangestel wat veronderstel is om die gemeenskap op hoogte te hou.

“Ek neem die blaam dat die gemeenskap nie oor ons besluit ingelig is nie. Ons moes met julle gepraat het. Ek is jammer ons het dit nie gedoen nie.”

Die komitee bestaan uit ’n verteenwoordiger van die ministerie van werke en vervoer, twee munisipale raadslede, ’n persoon van die ministerie van gesondheid en sosiale dienste en die hoof kontrole beampte van die Erongo-streekraad.

Die goewerneur sê Covid-19 is iets nuuts en die amptenare leer wat hulle moet doen, al dan nie, soos die pandemie ontvou.

“Die komitee het vergader om die begrafnis van die eerste Covid-19-sterfgeval op Walvisbaai te bespreek. Die munisipaliteit het die grond verskaf. Ons word deur reëls en regulasies van die ministerie van gesondheid gelei, wat op hul beurt deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) gelei word. Sommige van die reëls wat in geïmplementeer is, is nie van toepassing op die Namibiese konteks en kultuur nie.”

Begraafplase

Volgens Andre het Walvisbaai drie begraafplase.

“Die reëls rondom Covid-19-begrafnisse is dat grafte 200 meter vanaf ’n bestaande begraafplaas en 2,6 meter diep moet wees. Ons is ook ingelig dat die oorledene binne 48 ure na die dood begrawe moet word.”

Volgens Andre was die eerste persoon wat begrawe is, reeds 'n paar dae dood, en dit het die infekterings- en gesondheidsaspekte beïnvloed.

“Ons is ingelig dat ons op ’n diepte van 1,9 meter in die Kuisebmond- en Walvisbaai-begraafplase op water sal stoot. Die raad het ons ingelig oor ’n beplande begraafplaas wat alreeds goedgekeur is. Dit was die ideale plek omdat daar geen water op die vereiste diepte is nie. Om die graf vir die eerste sterfte voor te berei moes ons ’n pad bou. Die plan was om ’n grensmuur en ’n hek op te sit.”

Die burgemeester van Walvisbaai, mnr. Immanuel Wilfried, het beklemtoon die eerste persoon wat begrawe is, is ook die eerste sterfte in die land.

“Daar is verskillende partye by die begrafnis van Covid-19-verwante sterftes betrokke. Ons het die afgelope Saterdag alle begraafplase besoek. Die eerste plek wat ons oorweeg het, was 'n plek agter die gevangenis. Die plek was nie geskik nie omdat dit twee maande sou vat om voor te berei omdat geen omgewingsklaringsertifikaat beskikbaar is nie.”

“Die begraafplase op die dorp en in Kuisebmond beskik nie oor behoorlike ruimte nie en die begraafplaas in Narraville is amper vol. ’n Voorstel is gemaak om die grond van een van die twee nuwe voorgestelde begraafplase in Kuisebmond of Narraville, te gebruik.”

Die burgemeester het gesê die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het druk op die munisipaliteit uitgeoefen om 'n perseel te voorsien, aangesien die oorledene binne 48 uur begrawe moes word.

“Ons was veronderstel om die oorledene Vrydag te begrawe, maar het nie geweet waar nie. Ons het besluit om die grond in Narraville te gebruik omdat daar alreeds ’n omgewingsklaringsertifikaat uitgereik is. Ons het die riglyne gevolg en het nie sommer net ’n besluit geneem nie. Ons sal moet uitvind hoekom die komitee nie die gemeenskap ingelig het nie, hoekom die persoon nie in ’n kis begrawe is nie en hoekom daar water in die graf is.”

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer