God se pronkstuk nooit 'n mislukking
God se pronkstuk nooit 'n mislukking

God se pronkstuk nooit 'n mislukking

Mandy Rittmann
EZEGIEL SWARTBOOI SKRYF:

Die lewensoseaan is 'n woeste plek om op te leef.

Dink daaraan: die ongenadige branders, wat jou van die een na die ander kant slaan en jou laat tuimel. Dit hou net nie op nie.

Die sterk wind van voor, die golwe wat jou nie eens kans gee om asem te haal nie. Soms slaan die branders jou diep in die see in en jy word kos vir die seediere, veral die haaie (loan sharks).

Wees op die uitkyk vir dié gediertes. Jy kry nooit 'n vriendelike haai nie. Nee, stellig nie!

Vir Oom Jonas was dit 'n walvis (Samaritaan), nie 'n haai wat hom ingesluk het en ná drie dae gaan uitspoeg het nie.

Nou daar is mos altyd twee keuses. Hoewel soms net een, of so blyk dit daardie oomblik vir diegene wat hard aan die plan beraam het. Of die lewe, en nog meer ly, óf die maklikste uitweg – die dood! Ek praat nie van natuurlike dood nie, dít los sommer 'n naar kol op my maag.

Ek voel die bose geeste aan en my hele lyf bewe soos die koue rillings by my ruggraat afloop. Die onwrikbare besluit. Vasberade oor die saak. Ek voel my breinselle word dood, ek voel koud, hulpeloos, sonder uitkoms. Die pad raak duister vorentoe.

“Selfmoord, selfmoord!” skreeu die demone vanuit my diepste dele. Ek voel magteloos. Dis asof hierdie stemme my beheer.

My laat dink aan al die seer en teleurstellende, skandelikste en mees onaanvaarbare goed wat al met my gebeur het. Ek voel swak.

Ek voel die adrenalien inskop. Asof iets 'n knoppie druk, kom ek orent. Dis nou of nooit, doen dit! In elk geval gee niemand om nie, sê die heel eienaardigste stem wat voorgee dat hy omgee. Dis nie van 'n mens nie; iets hoër, van 'n ander, geestelike wêreld. 'n Monsteragtige misgeboorte . . . Jy kry die stem nie uit jou kop nie.

Eensaamheid was nooit so geweldig oor my nie. My trane van ondraaglike pyn skeur deur my verswakte hart soos 'n spies. Ek gooi myself neer, rol en rol, hyg na asem . . . Die laaste snikke kom deur soos diep sugte. Die brein voel afgeskakel en funksioneer nie meer nie.



DIE WAT AGTERBLY

Gewoonlik eindig dit net daar vir baie mense, maar wat van die geliefdes wat met al die seer agtergelaat word?

Dink daaraan. Wat van jou moeder wat jou in die wêreld gebring het? Wat van jou familie, vriende, kollegas ensovoorts?

Ek sal batterysuur drink, of pille sluk of myself doodskiet of hang, is van die oorwegings, en soms word dit 'n werklikheid.

Ek sien net swart, daar is nie uitkoms nie. Wat help dit om te lewe? As die lewensdraadjie breek, is dit verby.

Mens leef net een keer, en dan volg die dood.

Kom ek los dié gedagte by jou. Dink daaraan.

Hoeveel mense lê in hospitale en snak na asem net om aan die lewe te bly? Hoeveel het al ophou asemhaal en lê gekoppel aan masjiene wat hulle aan die lewe hou? En hul familie oorweeg al genadedood as opsie. Baie lê in pyn, veral met kanker, of is slagoffers van ongelukke. By sommige pasiënte het dokters al moed opgegee en wag maar net die ure om. Daar is mense wat vir hul lewens lê en veg, wie se lewe aan 'n baie dun draadjie hang.

In die aande, slapeloos en eensaam, sit jy toegesluit in jou pikdonker hoekie kop onderstebo en huil. Dit is vir jou onaanvaarbaar en onregverdig hoe die lewe jou behandel. Jy is sielkundig afgetakel en só depressief en laat nie toe dat enigiemand jou uit die put help nie. Die selfbejammering het die grootste porsie van jou daaglikse brood geword. Al die ander mense is teen jou en niemand gee om vir jou nie. Daar is nie meer 'n rede om te leef nie. Die lewe self het iets teen jou en behandel jou stief. Daar is nie eens 'n klein bietjie geluk in jou lewe nie, jou lewe is 'n absolute mislukking, lui die oortuigende stemme uit die doderyk. “Neem die besluit! Neem die besluit!” dring hulle aan.

Maar, as jy klaar jou besluit geneem het, en gedoen het wat reg vir jou is, sonder dat jy ander mense in ag geneem het, dan die volgende: Iets waaraan ons mensdom nooit gewoond sal raak nie. Dit is nuut elke keer. Bedroef en diep weemoedig staan die geliefdes langs die oop graf en ween.

“Aarde tot aarde, as tot as, stof tot stof . . . Hulle rus van hulle arbeid en hulle werke volg met hulle,” is die pastoor se laaste woorde. Die graf word toegegooi, die grafsteen opgesit, mooi blomme word op jou graf gesit en dis dit. Klaar!

Om te aanvaar die persoon is weg, dat die ondraaglike pyn net bietjie sal bedaar en jy jouself nie sal ­doodweën nie, word nie gewaarborg nie.

Die skuldgevoelens, die hoekoms en waaroms wat oorbly, gaan nooit net oornag weg nie. Soms nie eens ná baie jare nie. By elke begrafnis raak dit 'n seer terugblik. Soms huil mens nie oor die oorledene nie, maar oor die seerste dood van 'n geliefde wat mens opnuut elke keer martel asof dit daardie oomblik gebeur. Die impak is erg en eindeloos.

Die lewe is 'n geskenk van God, en maak nie saak wat jy in die lewe oorkom nie, solank jy nog lewe, dank God! Hou vas aan die lewensdraadjie. As dit te veel is vir jou, soek hulp, vertrou iemand met jou probleem. Daar ís hulp – van medemense, sielkundiges sowel as geestelike leiers.

Kommentaar

Republikein 2026-08-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer