Gobabis-moordverhoor
Gobabis-moordverhoor

Gobabis-moordverhoor

Betoë is gister deur regsverteenwoordigers gelewer in die verhoor van die Gobabis-man wat teregstaan op sy vriendin se moord.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Die verhoor in nóg 'n geval van geslagsgebaseerde geweld het gister in die hoërhof in Windhoek tot 'n einde gekom met die afhandeling van betoë deur die partye se regsverteenwoordigers.

Regter Dinnah Usiku het die saak van mnr. Erwin Tebele, wat tereg staan op die moord van me. Nina Katjatenja, tot 20 Oktober uitgestel vir die lewering van die uitspraak.

Tebele word daarvan beskuldig dat hy Katjatenja, sy gemeenregtelike vrou en die moeder van sy kind, vermoor het deur haar een keer met 'n mes in haar borskas te steek.

Dié noodlottige voorval het laat in die aand op 3 September 2013 in die Epako-woonbuurt op Gobabis plaasgevind.

Tebele het onskuldig gepleit gedurende die verhoor en het beweer hy het nie beoog om Katjatenja dood te maak nie. Hy wou haar glo seermaak omdat sy hom twee keer met 'n mes in sy linker- binnearm gesteek het.

Hy het die aand saam met sy vriende drankies gedrink en ongeveer 24:00 by die huis aangekom, het hy aan die hof vertel. 'n Argument het ontstaan toe Katjatenja hom gekonfronteer het omdat hy so laat huis toe is, terwyl hulle 'n klein baba het.

Staatsadvokaat Shikerete-Vendura het aan die regter gesê Katjatenja is voor haar twee ouer kinders om die lewe gebring, wat hulle aan geweldige trauma blootgestel het.

Die oorledene se vader het getuig sy het ná die aanval na sy huis gekruip. Volgens hom het hy haar gevra wie haar aangeval het, maar sy het gesterf voordat sy kon antwoord. Die beskuldigde het glo daarna by die vader se huis opgedaag en gesê hy het dit gedoen.



geskiedenis van geweld

Shikerete-Vendura het die vader se getuienis as bewys van Tebele se geskiedenis van geweld voorgelê.

Volgens hom het Tebele vantevore reeds gedreig hy sal Katjatenja eendag doodmaak.

Sy het ook aangevoer die oorledene kon geen gevaar vir Tebele inhou soos hy beweer nie, aangesien hy reeds die mes by haar afgeneem het.

Mnr. Mbanga Siyomunji, 'n prokureur, het namens Tebele aangevoer hy het uit selfverdediging opgetree en hy het die reg gehad om sy lewe te beskerm.

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer