Glo geen suurstof in Covid-19-saal
'n Man met erge asemnood is by 'n ongevalle-afdeling weggewys en moes hulp by die Covid-19-saal gaan
Henriette Lamprecht – 'n Weduwee van Walvisbaai beweer haar man wat erge asemnood ervaar het, kon vir meer as 15 minute nie met suurstof in 'n Covid-19-eenheid van die hawedorp se staatshospitaal gehelp word nie, omdat dit nie beskikbaar was nie.
Volgens die vrou het sy op 13 Januarie die hospitaal gebel om 'n ambulans te stuur om haar man wat 'n gereelde pasiënt is en longprobleme gehad het, by die huis te kom haal. Vriende het egter haar man by die huis kom haal, nadat die ambulans nie betyds opgedaag het nie.
“Hy was baie, baie siek en ons het hom na die ongevalle-afdeling geneem,” het die vrou gesê.
Hulle het gevra vir 'n rolstoel, maar volgens die vrou is haar man na bewering toegang tot die ongevalle-afdeling geweier en is hulle aangesê om hom eerder na die Covid-19-afdeling te vat. Dit het volgens die vrou 'n verdere “15 tot 20 minute” geduur.
“My man se asemhaling was bitter swak. 'n Suster het uitgekom en gevra of hy nie kan loop nie. Twee vriende moes hom uithelp en hy het net twee treë gegee toe hy inmekaar sak. Die vriende moes hom tot by 'n bed dra.”
Volgens die vrou was haar man se hande toe al “blou” en was daar glo nie suurstof in die kamer waar hy gelê het nie. Die suster het opdrag gegee dat hy op sy sy gedraai word en het volgens die vrou gaan “suurstof soek”.
“Twee vroue het later die suurstof op hom gesit, al was hy toe al dood. Nie een van hulle het spesiale uniforms of beskermende klere gedra nie.”
Die vrou sê sy het geruime tyd by haar man bly sit en 'n dokter het glo in die tyd wat sy daar was, nooit gekom om hom as dood te verklaar nie.
“Totdat hy daar weggevat is, het ek nie 'n dokter gesien nie.”
Die vrou beweer geen doodsoorsaak is op haar man se doodsertifikaat aangeteken nie.
'n Covid-19-toets is die volgende dag op haar man se oorskot gedoen, maar die uitslag was negatief.
Die vrou sê voorts geen van die personeel in die Covid-19-saal het glo persoonlike beskermende toerusting (PPE's) gedra nie, buiten vir die lykbesorgers wat haar man se oorskot in die hospitaal kom haal het.
Met haar navraag aan die hospitaal se superintendent oor onder meer die tekort aan suurstof, was haar antwoord volgens die vrou dat hulle “net mense is en hulle foute sal regstel”.
“My man kon nog geleef het as ons betyds gehelp is en betyds suurstof gekry het. Hy was ons broodwinner en nou is hy weg.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie