• Tuisblad
  • Sport
  • Gladiators teen Tanzanië: Kasaone wil vroeg begin
Gladiators teen Tanzaniu00eb: Kasaone wil vroeg begin
Gladiators teen Tanzaniu00eb: Kasaone wil vroeg begin

Gladiators teen Tanzanië: Kasaone wil vroeg begin

Vrouesokker
NAMPA
Die Brave Gladiators se hoofafrigter Uerikondjera Kasaona sê vroegtydige voorbereiding vir die vrouespan se wedstryd teen Tanzanië is belangrik in die opbou na die kwalifiserende wedstryde tussen 7 en 17 Junie in die 2022 Afrika Nasiebeker vir vroue.

Kasaona het in 'n onderhoud met Nampa gereageer op die loting wat by die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) se hoofkwartier in Kaïro, Egipte gedoen is.

Die kontinentale toernooi word volgende jaar in Marokko aangebied en kwalifiserende wedstryde begin volgende maand.

Namibië speel op 7 en 15 Junie eers die wegwedstryd in Tanzanië, gevolg deur die “tuiswedstryd” wat vanweë die stand van Namibiese stadions moontlik elders aangebied sal moet word, indien opgradering nie betyds gedoen word om die wêreldbeheerliggaam Fifa tevrede te stel nie.

Die wenner tussen dié twee vorder na die tweede en finale rondte om in Oktober 2021 teen óf Malawi óf Zambië te staan te kom.

Kasaona sê die loting is gunstig en die beste ding om te doen, is om die span so vroeg as moontlik voorbereid te kry, want in sokker kan enigiets gebeur.

“Daar is geen klein spanne nie en ons is bewus waartoe Tanzanië in staat is. Ons ken hulle spelstyl en fisiekheid en dis nie vir ons iets nuuts nie.

“Ons sal ons werk op die tekenbord moet reg doen en hoe vroeër ons met die oefenkamp kan begin, hoe beter kan ons die meisies se ingesteldheid regkry en hulle toerus met alles wat hulle van die opponente moet weet.”

Die Tanzaniese vroue het hul laaste vorige ontmoetings teen Namibië in 2012 beide gewen – met 5-2 tuis en 2-0 weg.

Sy sê die oefengroep sal spoedig aangekondig word, nadat sy eers met die Namibiese Sokkervereniging se tegniese span beraadslaag het.

Die Afrika Nasiebeker is 'n geleentheid vir die vier semifinaliste om vir die 2023 Fifa Wêreldbeker vir vroue in Australië en Nieu-Seeland te kwalifiseer.

• Die Namibiese o.20-vrouesokkerspan, die Young Gladiators, is intussen teen Burundi geplaas in die loting vir kontinentale kwalifisering vir die O.20 Wêreld­beker. Burundi sal die eerste wedstryd aan die einde van September aanbied, met die herontmoeting vroeg in Oktober.
– Nampa


FOTO
Uerikondjera (Mammie) Kasaone (regs), afrigter van die nasionale vrouespan, in aksie vir haar klubspan Galz & Goals, in ’n NFA Superbekerwedstryd teen Khomas Nampol vroeër vanjaar. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2026-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer