Gladiators byt vas op Afrika-lys

Sokker
NAMPA
Sokker se wêreldbeheerliggaam, Fifa, reken internasionale senior vrouespan kan rustig slaap rakende hul posisies op internasionale en kontinentale ranglyste.

Die Brave Gladiators, Namibië se senior vrouespan, word tans wêreldwyd as die 143ste beste deur Fifa gereken, terwyl hulle in Afrika op nommer 22 uit 25 lande geplaas word.

Dié beheerliggaam sê sedert Covid-19 vroeër vanjaar wêreldwyd sy kleim afgesteek het, is bitter min sokker gespeel en dit sal nie regverdig wees om ’n aangepaste ranglys uit te reik nie.

Onder die lidlande van die Raad van Sokkerverenigings in Suidelike Afrika (Cosafa) is die Gladiators sewende ná Suid-Afrika, Zambië, Demokratiese Republiek die Kongo, Zimbabwe, Angola en Tanzanië.

Fifa sê op sy webtuiste: “Weens Covid-19 is sokker tydelik tot stilstand gebring en geen internasionale vrouesokker is die afgelope maande gespeel nie.”

Uerikondjera Kasaona, hoofafrigter van die Gladiators, sê vanweë min internasionale kragmetings die afgelope paar jaar en nou ook Covid-19, is dit verstaanbaar dat die Gladiators se posisie nie watwonders sal wees nie.

“Die afgelope klompie jare kon Namibië nie aan genoeg kompetisies deelneem nie. Die dae is vergete toe ons op ’n gereelde basis vir vriendskaplike kragmetings teen Botswana en Suid-Afrika op die veld gestap het. Deesdae speel ons slegs by Cosafa-, Afcon-kompetisies en kwalifiserende Wêreldbekerwedstryde.

“Weens die gebrek aan ’n plaaslike liga en internasionale blootstelling, kan ons met kwalifiserende Wêreldbekerkragmetings nie eens oor die eerste hekkie kom nie,” het die gewese Namibiese kaptein verduidelik.

Die Verenigde State van Amerika (1), Duitsland (2) en Frankryk (3) is tans die topdrienasies in vrouesokker. Nederland (4), Swede (5), Engeland (6), Australië (7), Brasilië (8), Kanada (9) en Korea (10) voltooi die toptienlys.

In Afrika kraai Nigerië se vroue koning (38ste internasionaal). Kameroen (51ste) en Suid-Afrika (53ste) is volgende op die internasionale front, voor Ghana en Ivoorkus.

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer