Giteau su00ea weg met reu00ebl na hom genoem
Giteau su00ea weg met reu00ebl na hom genoem

Giteau sê weg met reël na hom genoem

Rugby
Die voormalige Wallaby-senter Matt Giteau het sy steun toegesê aan Rugby Australië (RA) se voorneme om weg te doen met ’n verkiesbaarheidsreël wat na hom genoem is.
Die Giteau-reël in Australië het voor die 2015-Wêreldbeker-toernooi van krag geword. Daarvolgens is die Wallaby-afrigter toegelaat om Australiërs te kies wat oorsee gesetel is, mits hulle al in 60 of meer toetse vir die Wallabies gespeel het.
Dié reël het Michael Cheika, die destydse Wallaby-afrigter, in staat gestel om Giteau en Drew Mitchell, wat toe albei in Frankryk klubrugby gespeel het, vir Australië se WB-veldtog in Engeland en Wallis te kies. Die Wallabies het daardie jaar in die eindstryd teen die All Blacks verloor.
Voor dié reël is ’n Wallaby-afrigter nie toegelaat om Aussies te kies wat buite Australië speel nie, want RA wou dit as ’n geelwortel gebruik om spelers in Australië te hou, andersins sou daar ’n moontlike uittog van spelers na Europa en Japan wees.
Maar nadat die Wallabies die afgelope naweek nog ’n drag slae by die All Blacks gekry het (57-22), het Andy Marinos, uitvoerende hoof van RA, gesê dis tyd om dié reël te laat vaar sodat Australië sy sterkste moontlike span kan kies.
“Ek is baie dankbaar dat hulle destyds daardie reël ingestel het, wat dit vir my en Drew moontlik gemaak het om in die Wêreldbeker te speel en vir my om in ’n 100ste toets te speel. Maar as ons nou vorentoe kyk, dink ek dis belangrik dat die Wallabies alles moontlik moet doen om meer mededingend te wees.
“Op toetsvlak is oorwinnings al wat saak maak. Jy moet jou sterkste moontlike span kies,” sê Giteau.
RA het wel verlede jaar, toe Dave Rennie by Cheika oorgeneem het as Wallaby-afrigter, die Giteau-reël gewysig sodat hy enige twee oorsese Wallabies van sy keuse (ongeag hoeveel toetse hulle al gespeel het) kon kies.
Maar die Wallabies, tweemalige Wêreldbeker-wenners, lê tans net sewende op die wêreldranglys en opeenvolgende nederlae teen Nieu-Seeland op Eden Park het meegebring dat die All Blacks vir die 19de jaar op ’n streep die Bledisloebeker behou.
Laurie Fisher, ’n voormalige Wallaby-hulpafrigter, sê Australië moet eenvoudig volle toegang tot sy beste talent hê.
“Jy kan nie jou beste hand speel as jy nie tot al die kaarte toegang het nie,” sê hy op Twitter.
– Netwerk24, Reuters

Matt Giteau vir die Wallabies tydens die 2015-Wêreldbeker-toernooi. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer