Gimnaste nie na Tokio

Net 'n enkele posisie vir een trampoliengimnas uit die ganse Afrika was gister op die spel.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Twee tieners van Walvisbaai Privaat Hoërskool se groot droom om as trampolien­gimnaste die kwalifisering vir die komende Olim­piese Spele te behaal, is nie verwesenlik nie.

In gister se finaal in Kaïro was dit Thalia Loveira (18) en Carané van Zyl (17) teen twee Egiptiese mededingers – met elke gimnas wat net 'n enkele springgeleentheid sou hê.

Die beslissing aan wie die enigste Olimpiese plek vir Afrika toegeken sou word, was in die hande van 'n paneel internasionale beoordelaars, wat met hul puntetoekenning die twee Egiptenare eerste en tweede geplaas het, gevolg deur Loveira (derde) en Van Zyl.

Dié twee lande se gimnaste het die vorige dag in die uitdunrondte (twee spronge per gimnas) die kandidate van Suid-Afrika, Algerië en Angola uitgeskakel.

In dié gimnastiekkode duur elkeen se volledige rotetine normaalweg sowat 14 to 15 sekondes, waarin die gimnas tien elemente so foutloos as moontlik moet uitvoer om die beoordelaars te beïndruk. Met net een geleentheid is daar dus nie eens die geringste speling om 'n fout te begaan nie.

Die Olimpiese kwali­fiseringsgeleentheid vir die vasteland sou aan­vanklik op Walvisbaai aangebied gewees het, maar die Covid-19-pandemie het sake deurmekaar gekrap, sover dit lande se vermoë en bereidheid om te reis betref.

Loveira en Van Zyl, wat beide ewe bedrewe as tuimelgimnaste is, sal nou maar volgende hul visier op geleenthede soos die 2022 Statebondspele in Birmingham, of die wêreldkampioenskappe in hul ouderdomsgroep moet instel.

Kommentaar

Republikein 2026-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer