Gimnasium o.14u2019s gee pas aan
Gimnasium o.14u2019s gee pas aan

Gimnasium o.14’s gee pas aan

Skolerugby
Die Hoër Tegniese Skool (HTS) is geloof vir sy suksesvolle aanbieding van ’n vriendskaplike minitoernooi tussen vier skole se onder 14-rugbyspanne laas Saterdag.

Windhoek Gimnasium het die beste gevaar deur al drie sy wedstryde te wen, met Windhoek Hoërskool en die gekombineerde Okahandja-skolespan wat teen die gasheer HTS opgeweeg is.

“Dit was ’n uiters suksesvolle dag met die Covid-regulasies wat stiptelik gevolg is, deur toe te sien dat daar ten alle tye net 50 toeskouers was.

“Ná elke wedstryd is die pawiljoen verdaag en toeskouers moes die perseel verlaat, terwyl die volgende wedstryd se ouers ingelaat is. Sosiale afstand tussen toeskouers en op die reserwebank is gehandhaaf en die pawiljoen en die rugbyballe waarmee gespeel is, is ook gereeld ontsmet,” sê me. Ronel Bezuidenhout, sportorganiseerder van HTS.

Mnr. Wessel Kotze, hoofafrigter van Windhoek Gimnasium se o.14’s, sê die HTS-veld was in uitmuntende toestand, die pawiljoene was skoon en elke wedstryd is in ’n besonder goeie gees ondersteun.

“Die minitoernooi was ’n baie goeie inisiatief deur WHS. Die seuns het die geleentheid ongelooflik baie geniet en vir ons as afrigters was dit lekker om betrokke te wees. Die honger om te speel en die talent wat op vertoon was, het ons almal met nuwe oë na rugby laat kyk en ons almal laat besef dat dit ’n voorreg is om die sport te beoefen en geensins iets vanselfsprekend is nie.”

Kotze sê vir die o.14’s was dit ’n goeie oefenlopie voor komende naweek se interhoër tussen Windhoek Gimnasium (gasheer) en Windhoek Hoërskool.

“Die WHS-span het mnr. Jakkals Pretorius, ’n voormalige afrigter van Namibië se nasionale toetsspan, as hul afrigter en het ’n paar lekker stewige voorspelers.”

In die o.14-ouderdomsgroep het Gimnasium egter Saterdag die septer geswaai deur al drie sy wedstryde te wen. Veral die kaptein Ruan Agenbag, wat laas jaar se o.13 Cravenweekspan aangevoer het, en die flank Zach von Wielligh het sterk uitgestaan.

Die tellings was:

Windhoek Gimnasium klop Okahandja Skole met 19-8

Windhoek Gimnasium klop HTS met 34-12

Windhoek Gimnasium klop WHS met 38-5

WHS klop HTS met 27-17

WHS klop Okahandja Skole met 22-12

HTS klop Okahandja Skole met 37-12

• In nog ’n vriendskaplike o.19 wedstryd tussen die tweede spanne van WHS en ’n HTS Uitnodigingspan het HTS met 48-5 gewen. Die wenspan se drieë gedruk deur die buitesenter Ra-eez Feris (3), Willis Prins (2), Duhan Bezuidenhout en Shuveni Iimbondi. Die stut Jayden Jeffery het met drie strafskoppe en twee doelskoppe geslaag.

Kommentaar

Republikein 2025-05-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer