Gif in waterkrip dalk stropers se werk
Rooibokke, voëls en jakkalse is dood ná hulle van die vergiftigde water ingekry het of aan vergiftigde karkasse geëet het.
Henriette Lamprecht
Watermonsters van 'n krip in 'n munisipale kamp wes van Omaruru is vir ontleding na 'n private laboratorium gestuur om te bepaal watter soort gif in die water gegooi is.
Rooibokke, voëls en jakkalse is dood, ná hulle van die vergiftigde water ingekry het of van vergiftigde karkasse geëet het.
'n Perd wat altyd hier gaan water drink, is by die krip dood gevind met bloed wat uit sy ore en neus gekom het. Die munisipale kamp is tussen die plaas Okapekaha en Erongopark geleë.
'n Rooibok met dieselfde simptome, en ook twee jakkalse wat aan die rooibokkarkas geëet het, is naby die krip gevind. Die karkasse van nóg vyf rooibokke is verder in die veld gevind.
Volgens me. Manda Lang van Okapekaha is die krip deur werkers skoongemaak en was die opdrag dat die karkasse van al die vergiftigde diere verbrand moet word om te keer dat nog diere hiervan vreet.
Die karkasse van die vergiftigde diere is egter volgens Lang slegs met stootskrapers toegestoot, met die stank van dooie diere wat 'n week later steeds oor die gebied gehang het.
laboratoriumtoetse
“Die idee is om 'n diep gat te grawe, die karkasse hierin te gooi, hout bo-op te pak, diesel oor te gooi en alles te verbrand. Dit is om te verhoed dat roofdiere en selfs aasvoëls nie van die besmette karkasse eet nie. Nou kan enige dier hier loop grawe en dit uitsnuffel,” het Lang gesê.
Afgesien van die watermonsters wat die Langs na 'n private laboratorium gestuur het, sou die staatsveearts ook monsters van die vergiftigde diere na die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut in Suid-Afrika vir ontleding stuur.
Op die Langs se plaas is ook vier dooie jakkalse gevind wat dieselfde simptome as die ander vergiftigde diere gehad het.
“Die jakkalse het aan 'n dooie bobbejaan geëet wat moontlik ook vergiftig was. Ook tarentale en kleiner voëlsoorte is op ons plaas dood gevind.”
Volgens Lang het die gif in die water soos “klein blou korreltjies” gelyk, wat moontlik rotgif is.
“Ná ondersoek het ons gedink dit kan ook Aldicarb (Temik)-gif of 2-step wees – 'n uiters giftige insekdoder.
Dié gif is egter nie meer in Namibië beskikbaar nie, omdat dit so gevaarlik is. Dit kan egter ook arseen wees, maar ons wag op die laboratoriumtoetse om te bevestig watter gif gebruik is.”
Lang het voorts gesê dis rede tot groot kommer sou stropers nou gif gebruik om beeste en wildlewe sodoende “vinniger en makliker” vir vleis in die hande te kry.
'n Klag van stropery of veediefstal sal geopen word sodra die uitslag van die laboratoriumtoetse ontvang is.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie