Gewapende rowers buit derduisende
Gewapende rowers buit derduisende

Gewapende rowers buit derduisende

Ses mans het ’n inwoner in sy huis vasgebind en goedere ter waarde van sowat N$80 000 gesteel.
Hoewel die strate bedrywig deur polisie gepatrolleer word, vind rooftogte steeds in die Khomasstreek plaas.

Ses gewapende mans het Saterdag omstreeks 19:50 by ’n huis in Doradopark ingebreek. Hulle het na bewering die 37-jarige man in sy huis vasgebind en goedere ter waarde van sowat N$80 000 gesteel.

Volgens ’n polisieverslag het die mans die elektriese heining afgeknip en by die huis ingebreek.

’n Motor, televisiestel, vier trouringe, drie selfone en vyf sakke klere is glo tydens die inbraak gesteel.

“Die motor en gebreekte televisie is by Goreangabdam gevind. Niemand is al in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort,” lui die verslag.

• Op Brakwater, 20 km noord van die hoofstad, het vyf mans glo Sondag hul pistole op inwoners gerig terwyl hulle die huis beroof het.

Volgens die verslag is twee skootrekenaars, twee selfone, juwele en N$3 500 kontant gesteel. Niemand is al in hegtenis geneem nie.

• Omstreeks 02:00 Saterdagoggend is die Chin Chan-kroeg in Wanaheda beroof. Die misdadigers het na bewering twee boerpotte met ’n bedrag van N$80 000 beroof.

OSHAKATI

’n Kontantleningbesigheid op Oshakati is Vrydagoggend glo deur ’n man met ’n balaklawa en panga beroof. Die misdadiger het na bewering N$36 560 kontant gesteel.

“Die 31-jarige werknemer en haar kollegas het die besigheid oopgemaak toe die rooftog plaasgevind het,” lui die verslag.

Terselfdertyd is ’n sekuriteitswag glo voor ’n aangrensende kontantleningbesigheid deur twee mans met pistole aangeval.

Volgens die verslag het die drie misdadigers saam in ’n silwer sedanmotor sonder ’n nommerplaat weggery.

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer