Gevriesde babalykie gevind
Gevriesde babalykie gevind

Gevriesde babalykie gevind

Niemand is al in hegtenis geneem ná 'n voorval waarin ’n baba in die noorde van die land weggegooi is nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die gevriesde lyk van 'n baba is Maandag op ’n vullisstortingsterrein by Tsumeb gevind.

Dié grufonds is omstreeks 09:30 gemaak.

Volgens 'n inwoner van die dorp het hy oudergewoonte vullis gaan weggooi toe 'n vrou op die terrein skielik begin gil het. Toe hy nader stap, het hy die babalykie gesien wat in 'n oranje sak toegedraai was.

Saam met die babalykie was ook die nageboorte. By nadere ondersoek het hy gesien dit was gevries. Volgens die inwoner het hy sowat 'n halfuur ná 'n munisipale vullislorrie by die terrein aangekom.

"Maandae word vullis op die dorp verwyder en ek dink die lykie is net voor die lorrie opgedaag het, in 'n asdrom gegooi," het hy gesê.

Volgens hom sou die polisie eers gaan ondersoek instel in die woonbuurt vanwaar die munisipale lorrie vertrek het.

Intussen het adj. komm. Naomi Katjiua van die polisie in die Oshikotostreek die voorval bevestig en gesê niemand is al in hegtenis geneem nie.

Katjiua het gerugte ontken dat 'n paar handskoene en vuil lappe saam met die babalykie in die sak toegedraai en gevries was.

Volgens haar is gerugte onwaar dat nóg ’n baba wat gister op die dorp weggegooi is, by die polisie aangemeld is. Volgens gerugte is die lykie van nog 'n baba in die Jordaanrivier op die dorp gevind.

Adj. komm. Katjiua het 'n beroep op die publiek gedoen om enige moontlike inligting oor die voorval by haar aan te meld. Sy kan geskakel word by 081 140 3811. Die polisieondersoek duur voort.

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer