Gestremde span toer na Winterspele
Gestremde span toer na Winterspele

Gestremde span toer na Winterspele

Vloerbal
Tielman van Lill
'n Span met 26 spanlede en beamptes het dié week vanaf die Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Graz in Oostenryk vertrek waar die atlete aan hul eerste vloerbalwedstryde by die 2017 Spesiale Olimpiese Winterspele sal deelneem.

Die toergroep bestaan uit 20 spelers, vier afrigters en twee beamptes.

Die afskeid vir beide die mans- en vrouespan is by die Môreson Skool vir verstandelik gestremdes deur me. Jo-Ann Manuel, adjunkdirekteur van gemarginaliseerde mense en vroue in sport, bygewoon.

Dié liggaam ressorteer onder die ministerie van sport, jeug en nasionale diens.

Manuel het aan Nampa verduidelik dat dit Namibië se eerste tree na so 'n grootse geleentheid is.

“Al wat ek vir julle kan sê, is om jul beste te gaan lewer.

“Ewe belangrik is om julself te geniet en Namibië met trots te verteenwoordig,” het Manuel gesê.

Twaalf spelers is van Môreson, twee van Dagbreek, drie van die Hoërskool Shifidi en drie van DHPS. Die atlete het in Junie 2016 met die hulp van Thorsten Horenburg, 'n onderwyser by die Deutsche Höher Privatschule en bekende fietsryer, begin oefen.

Mnr. Peter Wilson, waarnemende hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie, vergesel die span. Wilson is ook die voorsitter van Spesiale Olimpiese sport in Namibië en het vertel dat vloerbal met hokkie vergelyk kan word.

Vloerbal word binnenshuis met 'n doelwagter (sonder 'n stok) en vyf spelers aan 'n kant op 'n baan van 20 meter by 12 meter met hokkiestokke gespeel. Noorweë, Tsjeggië, Switserland, Swede en Finland is van die lande waar dié sport die sterkste ontwikkel is.

Bykans 2 700 verstandelik gestremde atlete van 107 lande sal by die Spesiale Olimpiese Winterspele vanaf 14 tot 25 Maart in aksie wees. Meer as 30 sportkodes word aangebied.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer