Gesteelde kluis en wapens gevind
Gesteelde kluis en wapens gevind

Gesteelde kluis en wapens gevind

Moenie skuiling aan misdadigers bied of kriminele aktiwiteite ignoreer nie, maan polisie.
Gerine Hoff
Otis Finck op Walvisbaai



Vier verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die diefstal van ''n kluis tydens ''n inbraak op Walvisbaai op 24 November, het Woensdag in die dorp se landdroshof verskyn.

Die kluis het wapens, verskeie waardevolle items en geld bevat.

Mee. Ermelinda Dausas (32), Caroline Tjikongo (32), Theopisa Gaeses (45) en mnr. Roman Uiseb (40) is onderskeidelik op 28 November in Kuisebmond, Uis en Okombahe in hegtenis geneem in verband met die inbraak wat by ''n huis in Sesdestraat plaasgevind het.

Die beskuldigdes het voor landdros Eden Iyambo verskyn, wat die saak tot 17 Januarie 2017 vir verdere ondersoek uitgestel het. Borgtog van N$5 000 is toegestaan.

Speurhoofinspekteur Moses Uwu-Khaeb het gesê die misdaad is goed beplan en uitgevoer. Hy het daarop gewys dat een van die verdagtes as ''n huishulp by die huis werksaam was en onlangs afgedank is.

“Die verdagtes het na bewering die huis tussen 08:00 en 13:00 betree en ''n kluis verwyder wat goue munte ter waarde van N$15 000, vuurwapens, ammunisie en N$20 000 kontant bevat het. Die polisieondersoek asook die soektog na drie ander verdagtes wie se identiteite bekend is, gaan voort. Dit is net ''n kwessie van tyd voor ons hulle ook vastrek,” het Uwe-Khaeb gesê. Polisie-intelligensie het op 28 November tot die eerste arrestasie van ''n vrou in Okombahe gelei, asook die opsporing van ''n geweer, haelgeweer en die kluis wat op ''n plaas 20 km buite die dorp weggesteek was.



Vuurwapens op Uis

Drie rewolwers en ammunisie is op Uis gevind, waarna die arrestasie van twee ander verdagtes in Walvisbaai gevolg het.

Die goue munte en kontant is nog steeds soek.

Uwu-Khaeb het die publiek gemaan om hul eiendom te beskerm en bure te vra om op die uitkyk te wees vir verdagte persone. Hy het ook ''n beroep op taxi-drywers gedoen wat gesteelde eiendom en kriminele vervoer, om misdade te rapporteer.

“Ons monitor die beweging van gewoontemisdadigers en sal diegene wat hulself skuldig maak aan misdrywe, voor stok kry. Ons vra dat die gemeen­skap nie skuiling aan misdadigers bied of kriminele aktiwiteite ignoreer nie. Diegene wat gesteelde eiendom wegsteek, stel hulself in gevaar. Misdadigers gebruik gesteelde wapens om rooftogte en moord uit te voer. Rapporteer dit eerder aan die polisie wanneer wapens na jou gebring word om te bewaar.”

''n Beampte van Erongo se gemeenskappolisiëring, ao. Ileni Shapumba, het gemeenskapslede aangeraai om gebruik te maak van die verlengde amnestie op onwettige vuurwapens en om sulke wapens by polisiekantore in te handig.

''n Amnestie om dié wapens in te handig, is tot 18 Februarie 2017 verleng.

Polisiepatrollies en mobiele padblokkades lewer goeie resultate op en het gelei tot ''n paar arrestasies in die Omaruru-omgewing.

Twee verdagtes, mnre. Marcelinus Gariseb (27) en Petrus Moses (27), albei werkers op Plaas Ehuiro, is op 26 November in hegtenis geneem weens die besit van ''n karkas van ''n koei ter waarde van N$15 000 wat na bewering gesteel is. Hulle het in die Omaruru-landdroshof verskyn.

Polisiebeamptes op patrollie het ''n verdagte motor opgemerk wat langs die plaasheining gestaan het. By nadere ondersoek is die karkas ontdek.

Mnr. Andrew Jon Kelly (44) is op 26 November in hegtenis geneem en het in die landdroshof verskyn in verband met die besit van dagga.

Polisiebeamptes het Kelly se motor wat op die Omaruru-Okombahe-grondpad gestaan het, gewaar en by nadere ondersoek 20 sakkies dagga ter waarde van N$350 gevind.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer