Geslagsgeweld-slagoffer skuil by polisiekantoor
Geslagsgeweld-slagoffer skuil by polisiekantoor

Geslagsgeweld-slagoffer skuil by polisiekantoor

Ileni Nandjato
Ileni Nandjato



'n Slagoffer van huishoudelike geweld het die naweek by die Ondangwa-­polisiekantoor deurgebring nadat sy Vrydag deur die polisie weggewys is en aangesê is om eers Maandag terug te kom.

Me. Salina Swarts (41), wat twee maande swanger is, het besluit om met haar drie kinders by die polisiekantoor te skuil.

Sy sê die polisie kon haar nie Vrydag help om 'n klag van huishoudelike geweld aanhangig te maak nie en volgens hulle moes sy huis toe gaan en Maandag terugkeer. Sy het egter geweier.

Sy beweer sy is te bang om huis toe te gaan. Swarts woon al sedert 2018 by haar kêrel en sy gesin in die Efalalo-nedersetting naby Ondangwa.



Liefde is blind

Swarts sê sy steek al lank haar pyn weg en het Vrydag besluit om uit die gewelddadige verhouding te ontsnap. Sy sê haar ervaring met die polisie het haar egter radeloos gelaat.

“Ek is deur liefde verblind en vir 'n lang tyd in stilte gely. Ek het nou besluit ek het genoeg gehad. Ek wil met my lewe aangaan,” sê Swarts.

Swarts het verlede week aan Republikein se susterkoerant, Namibian Sun, vertel sy het die man ontmoet terwyl sy by die Kalkrand-dorpsraad in die Hardapstreek gewerk het. Sy het egter bedank en moes na die Noorde trek, waar sy uiteindelik emosioneel, seksueel en finansieel mishandel is.

“Toe ek hom ontmoet het was hy liefdevol en saggeaard. Hy is jonger as ek en was destyds werkloos. Ek kon hom ondersteun, want ek het gewerk. Ek het drie kinders gehad en ons het nog twee kinders saam,” het Swarts gesê.

“Ek het besluit om in 2018 te bedank en saam met my kêrel na die Noorde te trek. Ek moes my familie agterlaat, asook my twee oudste kinders. Ons het in Junie my pensioengeld gebruik om na die Noorde te trek. Hy was in beheer van die geld en binne 'n maand was daar byna niks oor nie.”

Sy sê sy het begin swaarkry.



Geslagsgeweld

Swarts sê die man het konstruksiewerk begin doen, terwyl sy as 'n huishulp gewerk het.

Sy sê hy het aangedring dat sy haar inkomste vir hom gee.

“Hy het elke dag gekyk watter ­onderklere ek aan het. Hy het my dikwels beskuldig dat ek rondslaap,” het sy gesê.

“Sy gesin beweer ons kinders is nie syne nie. Ek kon met niemand praat nie, want ek is van my familie vervreem.”



Polisie-ervaring

Swarts sê alhoewel sy nie geld gehad het nie, het sy besluit om die 18 km vanaf Efalalo tot by Ondangwa met haar drie kinders te stap. 'n Vriend het vir haar geld gestuur terwyl hulle op pad was.

“Ek het 12:00 by die polisiekantoor aangekom en niemand het my gehelp nie. Die polisie het gesê ek moet teruggaan, maar ek het geweier. Ek het gesê ek sal daar bly tot iemand my kan help. Hulle het aangebied om my na die nedersetting te neem sodat ek my basiese benodighede kan kry, maar ek het die aanbod van die hand gewys. Hoe sou my kêrel en sy gesin reageer as hulle weet ek het polisie toe gegaan?”

Die Oshanastreek se polisiekommissaris, me. Rauha Amwele, het gesê sy is nie bewus van die saak nie, maar die polisie kan nie weier om 'n klaer te help nie.

“Die polisie moet 'n verklaring neem en beamptes moet die saak opvolg.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer