Gepak met hope avontuur, passie
Gepak met hope avontuur, passie

Gepak met hope avontuur, passie

Lloyd Zandberg
J.B. Roux - Die een ding waarvan Wilbur Smith nie beskuldig kan word nie, is luiheid.

Sedert When the Lion Feeds in 1972 verskyn het, het hy nog 42 boeke geskryf. (On Leopard Rock, ’n outobiografie, het laas jaar verskyn). Courtney’s War is nr. 42. David Churchill is nader geroep om te help skryf.

Saffron Courtney het haar buiging in War Cry gemaak en sit haar avonture in Courtney’s War voort. Dié keer bevind sy haar in die Tweede Wêreldoorlog as lid van die SOE, ’n Britse ondergrondse organisasie wat mans en vroue ná streng opleiding na onder meer Frankryk stuur om die Duitse oorlogmasjien te ondermyn.

Saffron blaas treinspore op en maak Duitse soldate met gemak dood, onder meer deur ’n hoedespeld in ’n offisier se oog te druk.

Die vroue in Smith se romans het nie altyd ’n man nodig om hulle teen onheil te beskerm nie en hulle knetter tussen die lakens. Hiervan is Saffron Courtney ’n sprekende bewys.

Dan is daar Gerhard von Meerbach, ’n Duitse vlieënier. Saffron en Gerhard is verlief, maar hulle paadjies skei – met die hoop dat hulle weer verenig sal word.

Courtney’s War is stewig gestruktureer, met die vaart van ’n luiperd op vlug. Die karakters, indien ’n mens hulle met karakters in Smith se ander boeke vergelyk, is generies, maar ’n mens lol nie met iets wat werk nie.

Ons sal nooit presies weet hoeveel boeke – literêr én populisties – oor die Tweede Wêreldoorlog geskryf is nie, maar dié oorlog sal nog lank met ons wees.

Daar het soveel in dié tyd gebeur dat dit nog heeltemal moontlik is om iets boeiends en oorspronkliks daaruit te haal. Gepak met avontuur en passie en met genoeg kinkels en draaie om lesers enduit te boei staan Courtney’s War geensins terug vir ander romans (in hierdie genre) oor die Tweede Wêreldoorlog nie.

J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer