• Tuisblad
  • Sake
  • Gemeenskap verjaag mynbestuur op vergadering

Gemeenskap verjaag mynbestuur op vergadering

’n Vergadering tussen lede van die Delmas-gemeenskap in Suid-Afrika en die bestuur van die Gupta-beheerde steenkoolmyn Brakfontein buite die dorp, het Dinsdagmiddag in chaos geëindig toe George van der Merwe, bedryfshoof van Optimum Coal, hardhandig by die vergadersaal uitgegooi is.

Dit het gekom nadat Khaya Sekone, woordvoerder van die Victor Khanye- plaaslike owerheid, druk op Van der Merwe geplaas het om ’n onderneming te gee dat die Guptas se Tegeta Resources 11 gesinne wat langs die myn woon, sal help hervestig en vir hulle nuwe huise sal bou.

Die gesinne wat op ’n gedeelte van die plaas Brakfontein langs die myn woon, beskuldig Brakfontein se mynbestuur daarvan dat hul huise stukkend geskiet word.

Van der Merwe het geweier om die onderneming te gee en het gesê hy sal eers met Brakfontein se bestuur moet vergader en hul toestemming daarvoor moet kry.

Woedende lede van die South African National Civics Organisation (Sanco) het Van der Merwe uitgejou en gesê hy moet dadelik by die Guptas toestemming kry om huise te bou. Hulle het vir hom geskree hy moet “skoert”.

Toe hy bly sit, het twee mans, een gewapen met ’n stok, opgespring en Van der Merwe aan die kop en keel gegryp en hom by die saal se deur uitgegooi.

Satish Mudaliar, hoofbestuurder van die Brakfonteinmyn, is vroeër deur ’n vroulike lid van Sanco met water bestook. Sy het aan hom geskree hy is “ ’n leuenaar net soos al die Guptas” en dat hulle uit die land moet padgee. In hierdie stadium is die vergadering in ’n lokaal buite die dorp gehou.

Grace Mgebe (59) van Brakfontein het vir Mudaliar en vir Ravindra Nath, uitvoerende hoof van Tegeta Resources, gesê sy het drie jaar gelede al gekla haar huis is stukkend geskiet. Die myn het werkers gestuur en die krake met vuller toegestop. “Maar julle skiet dag en nag om die steenkool uit te kry. Ons kan nie snags slaap nie, want ons is bang ons huise val bo-op ons. En die huis het weer gebars.

“Ons wil hê julle moet vir ons ander blyplek gee.”

Mgebe het in Sotho gepraat en ’n tolk het dit in Engels vertaal.

Nath en Mudaliar het hul skouers opgetrek en gesê hulle is ook “net werknemers”

Mgebe het in trane uitgebars en gesê sy is siek en sy is seker dat haar longe en dié van haar kinders al swart is van al die steenkoolstof wat hulle elke dag moet inasem.

Johan Gericke, hoenderboer en ook ’n buurman van Brakfontein, het gesê dit is ondraaglik om ’n bestaan langs die myn te probeer maak. Die mynbase belowe al vir langer as drie jaar die situasie sal verbeter, maar dit word net erger, het hy gesê.

Gericke het aan Nath gesê hy dring daarop aan dat Tegeta Resources X-straalfoto’s van die longe van mense in die omgewing laat neem om te sien of hulle nie aan “swartlong-siekte” ly nie.

Nath het Gericke as “ ’n slu man” beskryf, wat wou gehad het Tegeta moet sy grond koop. “Ek het 13 gate op sy grond geboor en daar is geen steenkool op sy plaas nie,” het Nath gesê.

Gericke het dit ontken.

Sekone het Nath en Mudaliar later ook uit die vergadering gejaag en gesê hy gee hulle 48 uur om met ’n plan vir die mense se huisvesting vorendag te kom.

Toe Nath en Mudaliar versuim om die saal te verlaat, het Sekone vir hulle die deur gewys en geskree: “Gaan uit!”

Hierna het die mense na die Brakfonteinmyn vertrek en klippe voor die hek gepak. Die polisie het Dinsdagaand die ingang na die myn bewaak. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer