Gemeenskap maak harte oop
Gemeenskap maak harte oop

Gemeenskap maak harte oop

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis



Die NG-kerk op Otjiwarongo het onlangs 'n inisiatief van stapel gestuur om Covid-19-pasiënte in dié dorp wat tuis moet isoleer en hulp nodig het, van maaltye te voorsien.

Me. Chris-Mari Giani, een van die vrywilligers, vertel die projek het tot stand gekom ná 'n gesprek oor vroue wat siek is en die man wat dan soms sukkel om te kook, óf albei wat siek is en sukkel om vir die kroos te sorg, “om nie eens te praat van aanlyn onderrig wat op datum moet bly nie”.

“In ons plaaslike winkel voor die vleisrak, moedeloos oor die nood om my, bel ek toe die dominee en noem dat ons as gemeenskap gaan moet inspring en help,” vertel sy.

Nood mis niemand, voeg sy by. “Dalk nou of môre, maar iewers het ons mekaar nodig.”

Die kerk het spoedig 'n plakkaat gemaak, wat wyd en syd gedeel is. Hiermee het hulle gesinne of individue wat siek en moeg is, aangemoedig om van hul diens gebruik te maak, al is dit net vir 'n maaltyd of twee.

“Siek mense het laat weet hulle het hulp nodig. Wonderlike mense met oop harte en hande het dadelik ingespring om te help.

“Ek het 'n uur later met meer as 250 WhatsApp-boodskappe gesit en nie geweet of ek nou my kop in 'n byenes gedruk het nie. Wat ek wel weet, is as jou drome jou nie bangmaak nie, droom jy nie groot genoeg nie. Ek was bang,” vertel Giani verder.

Dae later stroom hulp van die Otjiwarongo-gemeenskap steeds in. Mense op plase, selfs mense met minder as niks bied hulp aan, loer in of bring kos of kruidenierware wat 'n huis vir paar dae kan dra tot die inwoners weer op die been is.

Om hul dankbaarheid te betoon, het die gemeenskap ook koeke vir hospitaalpersoneel gebak.

Giani vertel die siekes het selfs al geld oorbetaal vir krag en water wat gekoop moet word.

“Hierdie tyd raak ons nie net fisiek nie, maar ook emosioneel afgemat en moeg! Ons verlang en ons verloor. Ons dorp, net soos ander, gaan gebuk onder Covid-gevalle en -sterftes. My gemeenskap het my stom gelaat en ek is waarlik dankbaar vir elkeen in my dorp.”

Sy meen nou is die tyd waar regte vriendskappe gesmee word, “want hier vind ons mekaar op die slegste en donkerste tyd moontlik”.

Dit is nou belangriker as ooit om deel van 'n gemeenskap te wees, want selfs deur 'n klein daad kan jy iemand se uitkyk op die lewe verander of hoop bring waar daar net hartseer was, sê Giani.

“As my hart te sag is, sê my vriendin altyd ek het weer my 'Rooikruis-skoene' aan. Ek wil jou aanmoedig om jóú Rooikruis-skoene aan te trek om jou naaste te help.

“As jy op Otjiwarongo woon, Covid het en 'n gesin het om voor te sorg, kontak ons gerus, ons kan help met 'n maaltyd of twee en 'n paar nodige dinge tot julle weer op die been is. Ons kan inloer, deur die voordeur praat en ons kan altyd aanhou om mekaar in ons gebede te deel.”

Kontak Chris-Mari Giani by 081 348 6765, of ds. Hector Jooste by 081 148 0146.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer