Geliefde Thys voer stryd teen motorneuronsiekte

Die ongenadige siekte is reeds ver gevorderd en maak die lewe vir hom en sy gesin moeilik.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Namibiese sportreus en legende, gewilde afrigter, “een van die beste onnies”, “my held op skool” en “pa-figuur vir baie op skool en op die rugbyveld”.

So word die rugbylegende en geliefde onderwyser Mathys van Rooyen (48) op sy Facebook-blad beskryf nadat hy aan die begin van verlede jaar met aggressiewe ­motorneuronsiekte (MND) gediagnoseer is, waarvoor daar geen kuur is nie. Die siekte is dieselfde as waarmee die Springbokheld wyle Joost van der Westhuizen gediag­noseer is en beteken in kort die senuwees wat die boodskap van sy brein na alle spiere moet oordra, gaan dood.

Volgens sy vrou Adél kan hy nie meer loop nie en sukkel hy om te eet, praat en asem te haal.

Mathys het in nege toetse vanaf 1996 tot 1999 vir Namibië uitgedraf, insluitend die 1999 Wêreldbeker.

Sy onderwysloopbaan het wye draaie gemaak van Rawsonville tot Hoër­skool Mariental, waar hy vanaf 2000 tot 2007 van wetenskap tot voorligting gegee het. Tussendeur het hy ywerig rugby afgerig, onder meer die Namibiese o.19-Wêreld­bekerspan van 2006 saam met Riaan Jantjies.

“Hy het 'n groot impak op kinders se lewens gehad. Hy is die tipe mens wat enige kind op sy emosionele vlak kan ontmoet,” vertel Adél.

Sy nalatenskap word reeds besing deur lede van die kleiner plattelandse spanne wat hy tot die uitklopfase van die Momentum o.19-Superliga-trofee geneem het. Van Mariental Hoërskool wat in 2001 deur Windhoek Hoërskool in die finaal geklop is, tot in 2016 toe die Privaatskool Elnatan in die laaste minute van die semifinaal deur Windhoek Affies uitgeskakel is.

Volgens Adél het hy einde 2018 gekla oor 'n voet wat seer is en het hy aanvanklik gedink dit was 'n geskeurde ligament. 'n Skandering in Windhoek het egter gewys dit was nie die geval nie en in 2019 is Mathys na die ortopediese chirurg, dr. Karl Friedlingsdorf. Hy is na die neuroloog, dr. Percy Kumire, verwys wat die “baie aggressiewe” motorneuronsiekte, Amiotrofiese laterale sklerose (ALS) by hom gediagnoseer het.

Dit was 'n geweldige skok, erken Adél, onder meer omdat hy twee tot vyf jaar gegee is om te lewe.

“Daar was groot ontkenning. Wat sê jy vir jou kinders? Ons seun was maar 12 jaar oud.”

Mathys het ook die neuroloog, dr. Jody Pearl, gaan sien wat in ALS ­spesialiseer en wat die diagnose bevestig het. Pearl se prognose was dat teen die spoed wat die aggressiewe siekte in sy liggaam woed, hy “drie jaar oor het”.

“Daar is niks wat vir hom gedoen kan word nie. Dit is nie oorerflik nie; dit is 'n ding wat met jou gebeur,” ­verduidelik Adél.

Van die gesin se steunpilaar en groot man se 136 kg het min oorgebly, sê sy.

“Van sy sterk bene is niks oor nie. Hy kan glad nie loop of regop staan nie, om­dat sy rug- en nekspiere aan­getas is. Hy het dit oral en kan nie eet nie. Die senuwees wat die boodskappe van die brein moet oordra, kom nie by die spiere uit nie, wat disintegreer. Op die ou einde word dit 'n kwessie dat hy versmoor of verstik.”

In Mei kon Mathys nog loop, maar hy gaan vinnig agteruit, sê Adél.

“Dit het 'n geweldige impak op ons as gesin, maar daar is so baie mense wat omgee en kom kuier en by hom kom sit en gesels en skenkings doen.”

Die gesin het Windhoek toe getrek om naby dokters te wees en Adél werk van die huis af om Mathys te versorg.

“Ek 'cope' nog,” sê sy. Sy het ook 'n vrou wat in die huis werk wat met Ma­thys se ver­sor­ging help, insluitend dat hy gebad en aangetrek word.

Mathys het geen pyn nie en sy verstand “makeer absoluut niks”.

Hoewel hy ongelooflik moeg word, het Mathys 'n manier gevind om steeds met sy duim bood­skappe op sy selfoon te kan stuur.

“Hy kan nie antwoord as iemand bel nie, maar hy antwoord nog ­boodskappe per SMS.”

'n Trust genaamd M7 is gestig om met finansiële koste soos sy versorging te help en sal volgens Adél voortgaan as hy die dag nie meer daar is nie. “Daar is geen hulp in Namibië vir die siekte nie. Die doel is om ook weer ander te kan help.”

Vir meer inligting kan Adél by 081 148 3434 gekontak word. Bood­skap­pe vir Mathys kan aan 081 218 0723 gestuur word. Die trust se be­sonderhede is soos volg: Standard Bank, Mathys van Rooyen – M7 Trust, reknr. 60004996347, takkode 082372. Michael Durant, stigter van die trust, kan by 081 788 7700 gekontak word.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 1 vs 0 Getafe | Real Sociedad 1 vs 0 Valencia | Almería 0 vs 2 Barcelona | Las Palmas 2 vs 2 Real Betis SerieA: Torino 3 vs 1 AC Milan | Lecce 0 vs 2 Atalanta | Fiorentina 2 vs 2 Napoli European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City English Championship: Southampton 3 vs 1 West Bromwich Albion | Leeds United 4 vs 0 Norwich City Katima Mulilo: 11° | 31° Rundu: 9° | 30° Eenhana: 11° | 31° Oshakati: 12° | 31° Ruacana: 12° | 31° Tsumeb: 13° | 29° Otjiwarongo: 12° | 27° Omaruru: 14° | 29° Windhoek: 12° | 26° Gobabis: 13° | 27° Henties Bay: 20° | 36° Wind speed: 27km/h, Wind direction: E, Low tide: 07:06, High tide: 13:28, Low Tide: 19:06, High tide: 01:31 Swakopmund: 20° | 26° Wind speed: 25km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:04, High tide: 13:26, Low Tide: 19:04, High tide: 01:29 Walvis Bay: 22° | 33° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SE, Low tide: 07:04, High tide: 13:25, Low Tide: 19:04, High tide: 01:28 Rehoboth: 12° | 27° Mariental: 15° | 29° Keetmanshoop: 18° | 30° Aranos: 15° | 29° Lüderitz: 16° | 35° Ariamsvlei: 18° | 32° Oranjemund: 13° | 33° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 11° | 26° Mbabane: 12° | 25° Maseru: 8° | 24° Antananarivo: 15° | 22° Lilongwe: 13° | 26° Maputo: 20° | 27° Windhoek: 12° | 26° Cape Town: 14° | 21° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 15° | 24° Dar es Salaam: 24° | 32° Lusaka: 13° | 25° Harare: 12° | 26° #N/A #N/A