Geliefde skoolhoof sterf
Geliefde skoolhoof sterf

Geliefde skoolhoof sterf

’n Bekende afgetrede onderwyser en Windhoeker, mnr. Norman Titus (72), alombekend as Meneer Titus of Uncle Norman onder leerlinge, het Saterdag ná n kort siekbed gesterf.

Titus, wat diep spore op verskeie gebiede in veral die Khomasdal-gemeenskap getrap het, het sy lewe aan onderwys gewy.

Hy was onder meer ’n onderwyser en hoof van die Laerskole Gammams (1983-1994) en Emma Hoogenhout (1997-2006).

“Titus het ’n hart vol medelye. Hy was vol lewe en onvoorwaardelike liefde vir almal en was 'n voorbeeld van onbaatsugtigheid en toewyding deur diens aan sy familie, vriende, kerk en gemeenskap,” het sy seun, dr. Nortin Titus, gesê.

“Hy was ’n lewenslange student en het ’n liefde vir onderwys in beide kinders en volwassenes bevorder tot selfs ná sy aftrede, toe hy ook by onder meer die Dobra-, Jan Mohr- en Centaurus-skole sy ryke kennis oorgedra het,” het hy gesê.

Volgens sy seun het Titus sy persoonlike leuse ten volle uitgeleef.

“You must have a vision, but not all visions need to become reality. Therefore, carry on with the good work you’re doing,” was dié leuse.

Titus sal ook onthou word vir sy bydrae tot instellings soos die Namibiese Onderwysersunie (TUN), Windhoek Primêre Skool Skoolhoofde-vereniging (WIPSHA), die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu), die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA) en die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF).

Benewens Titus se toewyding aan die onderwyssektor was hy ook geliefd in sy kerk, waar hy as diaken en koorleier van die Windhoek United Congregational-koor gedien het.

Nortin sê sy pa was ook ’n groot sportliefhebber en kon vir heelwat vermaak sorg – veral wanneer hy sy gunsteling- rugbyspanne, die All Blacks en die Stormers, toegejuig het.

Titus word deur sy vrou, Christine, seun en skoondogter, twee dogters en een skoonseun, asook vyf kleinkinders, twee broers en drie susters oorleef.

’n Gedenkdiens sal eerskomende Sondag om 18:00 in die Windhoek United Congregational Church in Khomasdal gehou word.

Die begrafnis sal op 23 Februarie om 09:00 vanuit dieselfde kerk gehou word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer