Geldtekort pootjie atlete
Paralimpiese sport
Verskeie van die land se gestremde atlete is tans op die piek van hul loopbane, maar daar word min ontwikkeling met jong atlete gedoen om hulle vir die toekoms voor te berei. Namibiërs moet dus nie verbaas wees indien die gebrek aan geld en ontwikkeling meebring dat sy Paralimpiese atlete se medaljesuksesse opdroog nie.
Johannes Litwayi, president van die Namibiese Paralimpiese Komitee (NPC), sê sport vir gestremdes kry nie as 'n prioriteitskode die nodige ondersteuning van die regering om sy mandaat uit te voer nie.
“Ons waardeer wat die regering bereid is om mee te help, soos vervoer wanneer ons in Suid-Afrika moet gaan deelneem. Maar ons het veel meer as vervoer nodig wanneer die atlete vir groot kompetisies voorberei.
“Die NPC ontvang gewoonlik N$200 000 per jaar van die staat wat ons aanwend om die NPC se affiliasiegeld by die Internasionale Paralimpiese Komitee te betaal en dan is daar nie 'n sent vir enigiets anders oor nie.
“Ons het die afgelope drie jaar geen geld van die Namibiese Sportkommissie gekry nie en dit het 'n stok in ons wiel gesteek.
“Daar is tye wat die regering aan boord kom, maar daai geld word dikwels eers beskikbaar die dag wat ons moet vertrek. Dit beteken dat die atlete geen oefenkamp vooraf kon hê nie. Ons het N$800 000 nodig om al ons beplande projekte vir 2019 en volgende jaar aan te bied,” het die NPC se president gesê.
Die N$800 000 is bestem om die atlete vir die 2020 Paralimpiese Spele voor te berei wat vanaf 25 Augustus in Tokio gehou word; die NPC se eie nasionale byeenkoms op 30 en 31 Augustus 2019 asook die IPC wêreldatletiekkampioenskap wat November in Dubai aangebied word.
“Ons het 'n hele paar atlete wat die kwalifiserende tye vir die wêreldkampioenskap asook vir Tokio behaal het.
“As ons nie vanjaar aan die wêreldkampioenskap deelneem nie, gaan Namibië sy plek in Tokio verloor en die NPC se atlete sal nie deur die IPC op sy ranglys geplaas word nie, wat gaan veroorsaak dat ons nie aan die Paralimpiese Spele kan deelneem nie.”
Volgens Freddy Mwiya, hoofadministrateur van die Namibiese Sportkommissie, het die regering ten spyte van finansiële tekorte nog altyd tot die redding van sport gekom.
Mwiya sê die staat dek gewoonlik alle sogenaamde staatsbyeenkomste, wat die geldelike las van die sportkodes afhaal.
“Ons het voorsiening vir die NPC in ons begroting gemaak om Januarie aan die 2020 Afrika-spele in Marokko deel te neem. Dit is staatskompetisies en die Paralimpiese Spele sal ook deur ons gedek word.
“Ons het kompetisies soos die Afrika-spele, Olimpiese Spele en Streek 5 Spele, wat ook staatsbyeenkomste is.
“Ons wil sportverenigings aanmoedig om nie voor die voet groter getalle atlete op toer te wil vat nie, maar om net die room vir die belangrike kompetisies te kies. Dooie hout maak die bagasie te swaar en plaas onnodig 'n finansiële las op almal,” het Mwiya gesê. - Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie