Geldmark word weer veilige hawe
Geldmark word weer veilige hawe

Geldmark word weer veilige hawe

Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand-Jonker



Geldmarkfondse het vanjaar in die onstuimige markte en die politieke omgewing van wantroue in die regering ''n veilige hawe vir senuagtige maatskappye met groot hope kontant verskaf.

Ian Ferguson, hoof van kontantoplossings van Nedgroup Investments, sê geldmarkfondse het die laaste paar maande gewild onder veral dié beleggers geword.

Daar is ''n beduidende toename in geld van maatskappye wat hul ekstra kontant in die fondse plaas om ''n beter opbrengs te kry, terwyl hulle die geleentheid het om dadelik toegang daartoe te verkry.

Die Vereniging vir Spaar en Beleggings (Asisa) se inligting toon die bates onder bestuur in geldmarkfondse het van R267 miljard aan die einde van die eerste kwartaal tot R280 miljard aan die einde van die vierde kwartaal gestyg.

Ferguson sê korporatiewe geldmarkfondse het ''n gemiddelde opbrengskoers van 7,75% in die jaar tot einde September gelewer nadat die batebestuursgeld wat gehef is, afgetrek is.

“Dit is ''n goeie opbrengs vergeleke met wat hulle sou ontvang het as die kontant gebly het in daggeldrekeninge (by banke), waar die beste rentekoers wat op die geld gekry sou word 6,75% is.”

Hy sê gegrond op dié opbrengskoers het geldmarkfondse ''n bykomende R2,8 miljard se inkomste aan beleggers uitbetaal in 2016 vergeleke met verlede jaar.

Dit is grootliks vanweë die meer bates onder bestuur, maar die opbrengskoers wat gelewer is, het ook effens verhoog.

Nedgroup Investments se geldmarkfonds het net van Augustus tot einde September sy bates onder bestuur van R31 miljard tot R36 miljard verhoog.

Ferguson sê die groei wat die geldmarkfondse beleef, veral van maatskappye af, toon die stygende druk waaronder maatskappye se geldbestuurders (tesouriers) is om kontant in die toenemende onstuimige markte te beskerm.

“In die huidige omgewing waar daar swak vertroue in die ekonomie en die regering is, hou maat­skappye hul kontant terug totdat die situasie opklaar en die uitkringeffek van die graderingsbesluite ook duideliker word.”

Hy sê die verskil van 1% tot 2% rente op ''n groot hoop kontant is wesenlik, veral in hierdie tye waar maatskappye se winste stadiger groei.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-10-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer