Geld knel gesondheid
Geld knel gesondheid

Geld knel gesondheid

Die ministerie sê daar is geen veranderinge aan die vergoeding en werksvoordele van leerlingdokters en ander personeel nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Inligting wat op sosiale media versprei word oor die werwing en uitplasing, vergoeding en verskaffing van behuising aan leerlingdokters, is vals.

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste erken wel hy kan weens finansiële beperkinge verdere kostebesparingsmaatreëls oorweeg.

Die vergoeding en voordele van leerlingdokters en ander personeel word tans nog nie hierdeur geraak nie.

Volgens die inligting wat wyd op sosiale media versprei is, sal leerlingdokters vanaf aanstaande jaar nie 'n salaris tydens hul internskappe verdien nie. 'n Toelaag van N$5 000 per maand sal wel uitbetaal word. Huidige leerlingdokters word nie hierdeur geraak nie.



behuising

Ook gaan geen behuising glo verskaf word nie, terwyl leerlingdokters ook nie enige inspraak gaan hê oor waar hulle vir die verpligte internskappe uitgeplaas sal word nie. Volgens die inligting, wat nou deur die ministerie weerlê word, sal leerlingdokters “op enige plek in Namibië in een van die geakkrediteerde opleidingshospitale oral oor die land sonder keuse of insette uitgeplaas word”.

Die duur van die internskap bly volgens die “vals” inligting onveranderd. Met voltooiing van die internskap sal leerlingdokters hul poste in diens van die ministerie opneem, met vergoeding gelykstaande aan die huidige leerlingdokters se salarisse, wat volgens die inligting op sosiale media op 'n verlaging in vergoeding dui. 'n Proeftydperk van 'n jaar sal ook geld.

Verder is beweer enigiemand wat tans in die akkommodasie vir dokters woon, moet die perseel ontruim. In dié verband word 'n grasietydperk tot 31 Desember vanjaar toegestaan.

Die ministerie het by monde van sy waarnemende permanente sekretaris gesê in die lig van die finansiële knyptang waarin dit verkeer, is 'n aantal besparingsmaatreëls geïmplementeer.

Volgens me. Petronella Masabane sluit dit 'n moratorium op plaaslike en buitelandse reise in wat nie geborg word nie, die verhuring van persele vir werkwinkels, opleiding en vergaderings, sowel as die verskaffing van maaltye en verversings.

Ook word vakante poste nie gevul vir posisies wat nie verwant is aan noodsaaklike, direkte pasiëntesorg nie. Eksterne konsultante en die huur van kantore kry voorts die rooi lig.

Masabane sê die aankoop van goedere en dienste wat nie 'n direkte en negatiewe uitwerking op die verskaffing van gesondheid en maatskaplike dienste het nie, is ook afgeskaal.

Sy het egter beklemtoon daar is tans geen veranderinge aan die vergoeding en werksvoordele van leerlingdokters en ander personeel nie. Geen besluite is al in dié verband geneem wat reeds van krag is nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer