Gekweste United bly potensiële piesangskil

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die eerste NRU premierliga-klubrugbywedstryd sedert die nasionale verbod op kontaksport (vanaf einde Mei tot middel Augustus) opgehef is, word môre by Suburbspark in Khomasdal gespeel.

Trustco United was die laaste titelhouer in 2019, maar bevind hom onderaan die puntelys met net 5 ná vier wedstryde. Dis ’n uitgemaakte saak dat die Filistyne nie die trofee gaan behou nie, maar steeds moontlik dat hy ’n opponent – soos FNB Western Suburbs môre – se kanse ook kan ontspoor.

Jacky Bock, hoofafrigter van die Khomasdal-span, bly maar lugtig vir die blou truie te midde van die onsekerheid wat feitlik elke klub sal ondervind wat nou weer van nuuts af momentum moet vind.

“Ons het so lank afgelê en dis nogal ’n uitdaging met al die spelers se fiksheidsvlak nog nie waar dit behoort te wees nie. Ek dink dit sal ’n baie interessante en harde wedstryd wees. United beskik oor ’n kern van spelers wat in die nasionale oefengroep is, so ons sal maar moet druk om ons beste uit te haal en dalk met ’n onverwagse haas uit die hoed vorendag te kom.”

Western Suburbs bevind hom tans op 13 ligapunte net-net buite die topvier en speel môre die wedstryd teen United wat tevore weens Covid-19-gevalle by laasgenoemde uitgestel is.

Ná vyf wedstryde elk is FNB Unam die onoorwonne voorloper (25 punte), gevolg deur FNB Grootfontein (18), FNB Wanderers (17) en FNB Rehoboth (15). Die onderste drie is FNB Reho Falcon (6), FNB Kudus (6) en United (5).

Winmar Rust, afrigter van United, se spanlys dui daarop dat omstandighede die ervaring in sy spelersgroep grootliks uitgedun het.

Thomas Kali (slot of losvoorspeler) is vir 18 maande uit met ’n rugbesering. Naudé Neethling (agtsteman) is met ’n werkverplasing na Katima Mulilo ook nie meer beskikbaar nie, sê Rust.

Die losvoorspeler JP Grobler, ’n biokinetikus, het ook ’n druk werkskedule met rehabilitasie van mense wat ná Covid-19 herstel en sal dus nie weer hierdie seisoen rugby speel nie.

Dean Blom, die agtsteman wat die seisoen as eerstespankaptein begin het, is steeds buite aksie met ’n beseerde vinger. Die senter Henry Kandjou, wat die leierskap by Blom oorgeneem het, skryf die naweek eksamen en kan ook nie teen Suburbs speel nie.

Denzo Bruwer, senter/losskakel in die nasionale groep, het lanklaas by United geoefen en die skrumskakel Riaan van Zyl het nog nie van die Namibië Rugby-unie vrystelling gekry om te mag speel ná die kniebesering wat hy opgedoen het op die Julie-toer na Ivoorkus, waar hy sy toetsdebuut gemaak het nie.

Nog ’n skrumskakel, Keano Mouton, is ook uit met ’n kniebesering.

Die stut Jano Otto, wat vanjaar vir die gekanselleerde Namibiese o.20-toer gekies was, is kus toe verplaas vir werk. Otto het sover bekend nie na een van die kusstreek se rugbyklubs oorgeskuif nie.

Rust sê: “Die gees is goed tussen die manne en ons het genoeg diepte om ’n goeie span in die veld te stoot. Die manne is opgewonde om weer te speel. Ons voorbereiding het goed verloop en ons sien uit na ’n harde wedstryd.”

Die eerste spanne:

FNB WESTERN SUBURBS: 15 Ricardo Swartz, 14 Dumarcho Hartung, 13 Morgan Esterhuizen, 12 Bimbo Mbai, 11 Gino Wilson (kaptein), 10 Justin Nel, 9 Andrew-James Kearns, 8 Tjingairi Katjivi, 7 Richard Mapewa, 6 Dhale Cloete, 5 Diamando Tjombe, 4 Fidel Micolleney, 3 Andrew Shikoneni, 2 Howard Gawagab, 1 Chemigan Beukes.

Reserwes: Jason Fredericks, Roderique Victor, James Kisting, Vakomboka Kamboo, Bronwen Willemse, PJ Walters, Devereux Jansen.

TRUSTCO UNITED: 15 Nazume Swartz, 14 Vernon Hazam, 13 Wynand Smit, 12 Handre Bezuidenhout, 11 Kieron Diergaardt, 10 Hanreco van Zyl, 9 Alonzo Julius, 8 Pierre Venter, 7 Ryan Garoeb, 6 Gerhard Opperman, 5 Thomas van der Westhuizen, 4 Zander Bronkhorst, 3 Chris Swanepoel, 2 Gerhard Thirion (kaptein), 1 Jason Benade.

Reserwes: Eliakim Shikwambi, Jonathan Goliath, Walter Cloete, Panduleni Ilonga, Felix Humphries, Danie Grobler, Moses Sakeus.

Toegang beloop N$30 vir volwassenes, N$10 vir kinders en N$20 per voertuig.

Die heersende Covid-19-protokol word steeds toegepas en niemand sonder ’n masker sal by die hek deurgelaat word nie. Geen koelbokse word toegelaat nie. Verversings word te koop aangebied.
• In die vorige weergawe van dié berig asook in die gedrukte koerant is verkeerdelik vermeld dat môre se ontmoetings tussen Suburbs en United se tweede spanne (14:00) en eerste spanne (15:45) in die Hage Geingob-stadion gespeel sal word. Die venue is inderdaad Suburbspark.

NUWE SKEDULE

Die geherskeduleerde ligaprogram vir die komende naweke (tuisspanne eerste):

2 Oktober: FNB Unam tn FNB Wanderers; FNB Kudus tn Trustco United op Walvisbaai; FNB Rehoboth tn FNB Grootfontein; FNB Western Suburbs tn FNB Reho Falcon.

9 Oktober: Unam tn Western Suburbs; Grootfontein tn Kudus; Wanderers tn United; Rehoboth tn Reho Falcon.

16 Oktober: Semifinale (premierliga en reserweliga).

30 Oktober: Finale (premierliga en reserweliga).

FOTO’s
Gino Wilson en sy Suburbs-span sal nie wil sien dat United hulle môre uitoorlê nie. Foto Andrew Poolman
Hanreco van Zyl en United sal die afwesigheid van talle staatmakers moet oorkom. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer