Geingob maan oor moontlike tweede vlaag
Geingob maan oor moontlike tweede vlaag

Geingob maan oor moontlike tweede vlaag

Covid-19
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die gemiddelde daaglikse getal bevestigde Covid-19-gevalle in Namibië daal steeds.

In vergelyking met 317 gevalle wat op 23 Augustus aangemeld is, is 167 positiewe uitslae op 12 September aangeteken en gister net 63.

Volgens president Hage Geingob verteenwoordig dit ’n afname van 30% landwyd in daaglikse nuwe infeksies oor die afgelope week.

Volgens die staatshoof het Walvisbaai, eens die land se episentrum van die pandemie, op 7 Augustus 102 gevalle aangeteken. Gister is net drie nuwe gevalle op die hawedorp aangeteken.
In Windhoek, die nuwe episentrum, is gister se 62 nuwe gevalle aangeteken, teenoor 245 gevalle op 23 Augustus.

Die president sê die afname is ’n duidelike bewys dat die inperkende maatreëls doeltreffend was om die verspreiding van Covid-19 te onderdruk. Die opsporing van kontakte en toetsing gaan steeds onverpoos voort. Geingob het gewaarsku die moontlikheid van ’n tweede vlaag infeksies bly ’n werklikheid en is ’n risiko wat proaktief bestuur moet word.

“Ons is nog nie naastenby oor die ergste nie,” het hy gemaan.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê 88% van sy ministerie se begroting van N$727 miljoen vir die bestryding van die pandemie is reeds bestee.

Met verwysing na toetskapasiteit sê Shangula die land het in die eerste ses maande van die pandemie sy aanvanklike toetskoers van 25 000 met meer as 200% oorskry, met 84 688 weefselmonsters wat tot op hede getoets is. Namibië se koers vir toetsing is tans 32 uit elke 1 000 inwoners.

Shangula sê 72% van alle gevalle wat sedert 20 Mei aangemeld is, was mense wat in kwarantyngeriewe geplaas was. Volgens hom was 13 010 mense op regeringskoste in kwarantyn. Hy het beklemtoon dié maatreël het die aantal sekondêre infeksies van elke individuele geval tot minder as een verminder.

Die kumulatiewe getal Covid-19-gevalle wat sedert 14 Maart in Namibië aangeteken is, het teen gister op 9 964 gestaan. Hiervan het 7 502 reeds herstel.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer