Geharde oud-Bul se kop staan hierheen
Thys Burger bied die naweek 'n uitstalling van rugby-gedenkwaardighede.
Andrew Poolman - Thys Burger, 'n lid van Noord-Transvaal se dominerende Curriebekerspan van die 1970's en 1980's en oud-Springbok in drie toetse, beoog om hom binnekort in Namibië te kom vestig en sy ondervinding tot voordeel van die plaaslike sport in te span.
Burger, nou 65, is vandeesweek op 'n missie in Windhoek.
Hy het sy toetsdebuut as plaasvervanger-flank teen die 1980 Britse Leeus in Bloemfontein gemaak, voordat hy later dieselfde jaar in Montevideo as agtsteman teen die briljante Hugo Porta se Suid-Amerikaanse XV begin het.
In 1981 was hy ook op die veelbesproke “meelbom-toer” na Nieu-Seeland wat deur betogings teen apartheid gekenmerk was.
Dit was tydens die tweede deel van hierdie toer – Suid-Afrika se geskiedkundige eerste besoek aan die VSA – dat Burger sy unieke inskrywing in die geskiedenisboeke met sy soort “driekuns” in die bisarre toets teen die Amerikaanse Eagles gemaak het.
Vanweë vrese vir betogings is die wedstryd onder sulke streng geheimhouding op 'n Donderdag gespeel, dat daar bykans geen toeskouers was nie (sowat dertig volgens berigte).
Voor die toets het Burger die doelpale gehelp plant, op die Owl Creek-poloveld met sy effense skuinste. Voor die afskop is hy boonop aangetree om as vlagman op te tree. Toe die Springbokke se seweflank Theuns Stofberg gedurende die tweede helfte 'n besering opdoen, het Burger hom vervang en as kersie op die koek het hy sy eerste en enigste toetsdrie gedruk.
In sy 14 verskynings in 'n Springboktrui, insluitend toerwedstryde, het Burger nooit verloor nie.
Op provinsiale vlak het hy 75 wedstryde vir die destydse formidabele Noord-Transvaal gespeel en later 25 vir Transvaal (die hedendaagse Goue Leeus).
Thys en sy seun Philip hou die Suid-Afrikaanse rekord vir die vader-en-seun-kombinasie wat in die meeste Curriebeker-wenspanne gespeel het, naamlik agt. Hiervan was Thys in vyf met Noord-Transvaal betrokke en Philip in drie as heelagter van die Vrystaat-Cheetahs. Philip was ook 'n Blitsbok-sewesspeler en het 'n paar seisoene vir Perpignan in Frankryk gespeel.
VERSAMELSTUKKE
Deesdae is Burger se spesialiteit die verkryging en samestelling van puik gehalte (in sover moontlik ondertekende) sportversamelstukke en geldsinsameling vir verdienstelike sake, byvoorbeeld vir 'n heupvervanging vir Thys Lourens (76), sy jarelange spanmaat en merkwaardig suksesvolle kaptein van die Blou Bulle.
“Ek dink dis belangrik om die feit uit te wys dat ons as spelers in die amateur-era 'n wedstrydfooi van R17.50 vir 'n Curriebeker-finaal ontvang het. Tydens die 1981 Springboktoer na Nieu-Seeland was ons dagtoelaag 'n 'allemintige' R30.”
Van vandag tot Sondag hou Burger in die Grove Mall naby die Spar 'n uitstalling van sy versamelstukke. Dit omsluit nie net sportlegendes van weleer nie, maar ook van Suid-Afrika se onlangse 2019 Wêreldbeker-kampioenspan, vir die Namibiese publiek om aan te koop.
“Juis vanweë die feit dat ekself die samestelling en verkryging van my memorabilia behartig, is dit vir my moontlik om dit teen 'n bekostigbare prys aan te bied. Daar sal vir seker iets wees vir elkeen wat belangstel, vir hulself of juis ook nou op die vooraand van die feesseisoen vir 'n eggenoot, ouer, kind, werkgewer of kliënt.
“Ek sien baie uit daarna om die Namibiese publiek te ontmoet. Hulle is welkom om 'n draai te kom maak, te groet, foto's neem en/of handtekeninge te kry en sommer net lekker rugby te gesels.
“My vrou Ruth, 'n gebore en getoë Namibiër, het 'n plaas in die Kalahari, Aranos-omgewing, en ons is van plan om in die afsienbare toekoms ons permanent in die land te kom vestig.
“Ek sal graag na aanleiding van my uitgebreide ervaring 'n wesenlike bydrae tot Namibiese rugby wil kom maak. Ek het in die 1980's ook in Italië gespeel en afgerig.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie