Geen sooibrand, net vars pasteie
Geen sooibrand, net vars pasteie

Geen sooibrand, net vars pasteie

Tanja Bause
Tanja Bause



Die nedersetting Aus in die suide van die land spog nou met 'n opgeknapte winkel waar die beste wildsvleispasteie elke dag vars ­gebak word.

Dié verhaal het 26 jaar gelede begin toe Elize en Wim Prinsloo van die Vrystaat in Suid-Afrika na Aus verhuis het.

“My pa het in die Landbou Weekblad 'n advertensie gesien oor die verkoop van die Namib Garage en winkel op Aus en ondersoek kom instel,” vertel Steve Prinsloo.

“Dit was ook nie lank nie, of hy het die winkel gekoop. Ek was toe in die weermag, maar my pa het my gevra of ek daarna by die winkel sal kom help en dit is hoe ek 'n jaar later op Aus aangekom het.”

In 2004 het Steve die winkel by sy pa oorgekoop.

“Ek en my pa het gestry en ek wou Australië toe gaan. Ek het vir hom gesê ek soek net 'n ­vliegtuigkaartjie. Dis toe wat hy sê hy het 'n beter plan: Dat ek die winkel by hom moet oorkoop,” het Steve gesê.

Oor die afgelope drie jaar het Steve en sy vrou, Karin, die winkel ­opgeknap en 'n paar veranderings aangebring.

“Ons het ongelukkig nie 'n goeie naam gehad wat ons pryse betref het nie. Nou het ons 'n ander ­verskaffer wat produkte teen 'n beter prys kan lewer. Die winkel self is ook vergroot en ons het 'n afdeling met aandenkings vir toeriste bygevoeg,” het Karin gesê.

Die houtsneewerkers van ­Okahandja is een van die grootste leweransiers vir dié afdeling.

“Hulle bel my en vra of hulle kan kom aflewer. Dan ry hulle tot op Aus om hulle werk vir my te bring,” het sy gesê.

In 2000 het Karin vir die eerste keer wildsvleispasteie gemaak en in die winkel verkoop.

“Dit is vandag nog 'n wenner. Ons gebruik gemsbokvleis in ons maalvleis en vleispasteie. Alles word vars gemaak en ek kan julle verseker dat niemand sooibrand van my pasteie sal kry nie!”

Op die terrein is daar ook kampeerplek en oornaggeriewe vir 120 mense. Nog 'n nuwe toevoeging is 'n groot saal wat vir funksies gebruik kan word.

“Volgende jaar wil ons graag 'n swembad en 'n putt putt-baan byvoeg,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer