Geen slang in gras met premier se plase
Geen slang in gras met premier se plase

Geen slang in gras met premier se plase

Markverwante pryse is verlede jaar betaal toe twee plase by die eerste minister en haar man gekoop is, sê mnr. Calle Schlettwein, die minister verantwoordelik vir grondhervorming.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die twee plase wat die regering verlede by die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, en haar man mnr. Onesmus Tobias Amadhila gekoop het, was transaksies soos enige ander in die grondhervormingsprogram en hulle het nie voorkeurbehandeling gekry nie.

Die plase Duwib (5 008 hektaar) en Agenab (2 750 ha, geleë op deel 1 van plaas Goab) is in die Tsumeb-Grootfontein-omgewing en was sedert 2012 tot verlede jaar in die besit van Moment Ivestment Fifty Six, ’n beslote korporasies waarin die Amadhilas elk 50% van die aandele besit.

Mnr. Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, het Vrydag by ’n nuuskonferensie in Windhoek op mediaberigte hieroor gereageer en gesê die transaksies het ingevolge die toepaslike wetgewing geskied en redelike, markverwante pryse is betaal.

Schlettwein het benadruk dat die plase nie deur die regering as deel van die hervestigingsprogram aan Kuugongelwa-Amadhila gegee is nie, maar dat sy en haar man dit deur Agribank se leningskema vir voorheen benadeeldes op die opemark gekoop het.

Schlettwein sê die plase is op 20 Januarie verlede jaar vir die staat aangebied om sy eerste reg op die koop daarvan uit te oefen. Geen plaas mag in Namibië van eienaar verwissel sonder dat die staat eers die geleentheid gehad het om te besluit of hy nie die plaas eerder vir grondhervorming wil aanskaf nie.

“Die ministerie het die plase ingevolge die aanbeveling van die grondhervormingsadvies-kommissie geëvalueer en bevind dit is geskik vir hervestiging,” sê hy.

Prysonderhandelinge het gevolg en daar is op N$1 713 per hektaar vir plaas Duwib en N$2 100/ha vir plaas Agenab ooreengekom. Die totale koopsom was N$14 436 748,70.

Schlettwein sê hulle is nie voorgetrek met die prys nie, maar dat “markverwante pryse ingevolge die vergelykingsbenadering vir plaastransaksies gebruik is”.

Hy het ook verduidelik dat plaaspryse in die tien jaar voor die Covid-19-pandemie grootlikes verdubbel het. “Dit het in die tussentyd gedaal, maar in daardie stadium was dit steeds op sy piek.”

Schlettwein sê van die tien plase wat verlede jaar vir hervestiging gekoop is, het die regering die minste betaal vir plaas Duwib en die sesde minste vir plaas Agenab.

Hy het gesê hy is bekommerd daaroor dat die media valshede berig in ’n poging om openbare instellings in ’n slegte lig te stel.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer