Geen gemors bygevoeg
Geen gemors bygevoeg

Geen gemors bygevoeg

Lloyd Zandberg
Yolanda Nel

Wat twee jaar gelede vir een gesin ’n leefstylverandering was, het nou ’n groeiende onderneming geword.

Dit was met dié verandering dat Ciske Smith besef het alles wat ons eet, bevat suiker en is glad nie gesond nie.

“Wanneer jy eet, moet jy jouself afvra: Is dit goed vir my liggaam? En dan sit jy baie vinnig baie produkte op die rak terug.”

Ciske het toe besluit om haar eie mayonnaise en grondboontjiebotter te maak.

“En dit bevat geen preserveermiddels nie!” sê sy trots. Aldus die naam: No sh!t added.

Sy sê mense lig soms ’n wenkbrou oor dié naam, maar dít is presies wat hul produkte behels.

“Dis gesond en daar is geen gemors in die produk nie.”

Ciske het die mayonnaise en grondboontjiebotter aanvanklik net vir haar gesin gemaak en familie en vriende daaraan laat proe.

“Dit was só gewild onder almal wat ons ken, dat ek besluit het om dit te begin bemark. Die beste van alles is dit vat nie eers baie tyd nie. Jy moet net begin. Dis lekker om jou eie produkte te maak,” sê sy.

Ciske se wens is dat mense besef dit wat hulle daagliks eet, het ’n uitwerking op hul gestel en dat meer mense leefstylveranderinge aanpak.

“Want hoe groter die behoefte aan gesonder opsies, hoe meer produkte sal op die mark beskikbaar gestel word. Sonder suiker het jy meer energie, slaap jy beter en daar is nog ’n honderd ander voordele,” sê sy.

Dit is steeds moeilik om nee te sê vir ’n sny koek of ’n lekker happie roomys, erken sy.

“Daarom gaan ek ook nou my eie roomys maak.”

Die mayonnaise bly vir ongeveer drie weke vars in die yskas, terwyl die grondboontjiebotter tot twee maande hou.

“Maar wees gewaarsku, dis so lekker, dit sal nooit so lank staan nie,” sê sy.

Haar reeks is by E.A.T@ in Nelson Mandelaweg beskikbaar.

Kontak haar by [email protected] vir meer inligting.

Kommentaar

Republikein 2026-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer