Geen diere in brand dood
Geen diere in brand dood

Geen diere in brand dood

Tanja Bause
Tanja Bause - Die veldbrand wat Dinsdag buitekant Windhoek op die pad na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gewoed het, is onder beheer.
Sowat tweederdes van die plaas Neuweiler het in die veldbrand afgebrand wat volgens ’n boer by die Neudamm Landboukollege begin het. Werkers was besig om ’n pad te skraap toe die gras aan die brand geslaan het.
“Ons het ’n paar dae gelede brandstroke geskraap en dit het veroorsaak dat ons twee kameelperde en al ons elande hulself kon red,” het mnr. Haiko Barth van Neuweiler gesê.
Volgens hom het die brand al die tuine vernietig en tot by die voordeur van ’n huis gebrand, maar geen skade is aan die huise self aangerig nie. Die grensdrade en waterpyplyne het wel skade opgedoen.
“Ons is net baie bly dat geen troeteldier, wilde dier of mens beseer is nie. Die gras sal weer groei en die ander goed kan ons herstel,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat boere uit die omgewing en die Windhoekse brandweerdiens vinnig op die toneel was. Hulle het gehelp om die brand so vinnig onder beheer te kon kry.
“Dit was ongelooflik hoe almal ons kom bystaan het en ons waardeer dit verskriklik baie,” het Barth gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer